Blou Bulle steeds in wedloop na Bloemfonteinse drieëfees

Die Blou Bulle is steeds in die Curriebekerwedloop.

Hulle het die Vrystaat Cheetahs Vrydagaand in die Vrystaatstadion met 64-36 geklop en tien drieë gedruk in ʼn wedstryd wat tot 20 minute na rustyd allermins verby was.

Dit is nie aldag dat daar drie manne is wat ʼn driekuns behaal nie, maar Burger Odendaal en Warrick Gelant aan die Bulle se kant en die flank Daniël Maartens vir die Vrystaat het nie net drieë gedruk nie. Die driekunsmanne het elk op hul eie manier ʼn groot bydrae tot die lekker wedstryd gelewer.

Verlede week het die Bulle in die laaste oomblikke met ‘n strafdoel teen die WP verloor, maar toe ook sewe keer gaan druk. Iets is duidelik op Loftus aan ‘t gebeur.

Die rustydtelling was maar 26-22 in die Blou Bulle se guns. Hulle het in die eerste helfte loshande die meeste besit gehad, die meeste rugby gespeel maar ook te maklik met middelmatige keerwerk toegelaat dat die Vrystaat binne trefafstand bly.

Miskien was die wedstryd effens te los, maar met twee spanne, wat met elke bal probeer hardloop het en voorspelers wat oral in bewegings opgeduik het, was dit ʼn heerlike rugbyfees vir die min toeskouers in die stadion.

Of die Bulle al reg is vir ʼn halfeindstryd en miskien meer, is nie seker nie. Dit was opvallend dat hulle ʼn bereidwilligheid en nou ook ʼn selfvertroue het om die bal te dra en aansluiting te vind.

Maar moenie die Vrystaat se bydrae weggooi nie. Hulle keerwerk, soos ook dié van Blou Bulle, was nie strykdeur waffers nie, maar op die aanval was daar gereeld ʼn man by om breekslag verder te help voer. Vyf goeie drieë was die gevolg.

Die Vrystaat het in die derde kwart ʼn goue tien minute gehad, die meeste besit geniet en gedreig om die Blou Bulle in te haal en verby te steek. Op 29-38 was hulle allermins uit die prentjie.

Toe het Gelant twee keer binne vier minute gaan druk en was die Bulle tot die einde toe baas.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs (22) 36: Drieë: Lloyd Greeff, Daniël Maartens 3, Stephan Janse van Vuuren. Doelskoppe: Robbie Petzer 3, JP Smith. Strafdoel: Petzer.
Blou Bulle (26) 64: Drieë: Ivan van Zyl, Burger Odendaal 3, Warrick Gelant 3, Duncan Matthews, Johan Grobbelaar, Tim Agaba. Doelskoppe: Marnitz Boshoff 6, Tony Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.