Blou golf verswelg Sharks

(Foto: GB Jordaan)

Daar is vooraf baie gepraat en bespiegel oor die lipaflekker-tweestryd wat daar Saterdag op Loftus Versfeld in die Verenigde Rugbykampioenskap tussen die Bulls en Sharks sou wag.

Springbok teen Springbok en bul teen bul.

Maar daar het dadels van gekom, want vir dit om te gebeur, moes die spanne goed teen mekaar opgeweeg het en kon afrond.

Die eindtelling was uiteindelik 44-10 in die Bulls se guns nadat hulle rustyd reeds met 27-3 voor was.

Die verskil was dat die Bulls kon afrond, ses drieë gedruk het en die Sharks met rotsvaste verdediging gewurg het.

Toe die Sharks die voortou ná net na drie minute geneem het ná ʼn strafdoel deur Curwin Bosch, het die hoop vir ʼn skoksege sekerlik in Durban opgevlam.

Maar die vlam is in Pretoria se hitte binne 20 minute voor sowat 25 000 toeskouers geblus. Dit het gevolg nadat Bosch twee keer met twee lang strafskoppe misluk het, die Sharks twee keer in die skrums gestraf is, twee lynstane afgestaan het en die haker Fez Mbatha boonop met ʼn geel kaart afgestuur is ná ʼn gevaarlike skouervat op Kurt-Lee Arendse.

Die slag is deur die Bulls geslaan, al moes hulle sonder hul twee gereelde slotte en die haker Johan Grobbelaar, wat vanweë beserings nie kon speel nie, klaarkom.

Die Bulls het die Sharks in die eerste helfte in die lynstane, skrums en met hul doeltreffende rolmale verfomfaai. Hulle het die Sharks ook met rotsvaste verdediging gewurg.

Met die gevaarlike agterste driehoek van Willie le Roux, Canan Moodie en Arendse op hul stukke, met die senters Stedman Gans en David Kriel wat al te maklik oor die voordeellyn gekom het en die losskakel Johan Goosen wat die Sharks met sy taktiese skoppe onder druk gehou het, was die slag reeds voor rustyd geslaan.

Die Bulls se pak gaan nie vanjaar terugstaan nie, want Wilco Louw, Akker van der Merwe en Gerhard Steenekamp is ysters in die skrums, die instaan-slot Janko Swanepoel was op sy kop en Cameron Hanekom, Elrigh Louw en Marco van Staden het in die vaste los oorheers.

Die Sharks het ná rustyd vir Ox Nche, Grant Williams en Rohan Janse van Rensburg opgestuur om die nodige vonk te probeer verskaf.

Die Sharks het met baie meer vuur gespeel; hulle het ’n strafdrie ontvang nadat Steenekamp ʼn rolmaal afgetrek het.

Die Sharks het vir byna 20 minute 79% besit en gebiedsvoordeel gehad.

Maar die Bulls was steeds gans te slim, te sterk en te vaardig.

En dan die stryd tussen die afrigters: Ongetwyfeld Jake White 1, John Plumtree 0…

Puntemakers: Bulls 44 (27): Drieë: Stedman Gans (2), Kurt-Lee Arendse, Akker van der Merwe (2), Elrigh Louw.  Doelskoppe: Johan Goosen (4). Strafdoele: Goosen (2).

Sharks 10 (3): Strafdrie (7 punte). Strafdoel: Curwin Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Moet sê, die Bulle se span is witterig in vergelyking met die Sharks en die Stormers. Hoe kom Jakes weg met dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.