Blou Maandae is nou weer ons voorland

Wat gaan ons nou op Maandagaande doen?

Een van die grootste suksesverhale in Suid-Afrikaanse rugby het Maandag in Pretoria sy  laaste stuiptrekkings vir 2017 gegee toe Tuks die Maties met 28-21 in die eindstryd van vanjaar se Varsitybekerreeks geklop het.

Draai maar die horlosie terug na die jaarlike Paas-klubrugbytoernooi in Durban. Wanneer Tuks teen Maties op ʼn Paasmaandag gespeel het, het die land stilgestaan.

Dis waar die helde gebore is: Naas Botha, Rob Louw, Divan Serfontein, Hennie Bekker … en ook onbesonge helde van klubs soos Despatch, Polisie, Harlequins, Durban Collegians en die RAU.

Maar Francois Pienaar en Duitser Bosman-hulle het verder gegaan. Hulle het die T20-reeks van rugby ontdek deur agt van die land se voorste universiteite te betrek om sedert 2008 elke jaar byna drie maande lank op Maandagaande teen mekaar te speel. Toe volg die Varsityskild, die Young Guns tussen die universiteite se junior spanne en die gewilde koshuisreeks.

Braai, musiek, rook, t-hemde, dansers, rasieleiers, die volkslied, innovering soos negepuntdrieë, twee skeidsregters, pienk broeke en balle, wit kaarte, strategie-breke.

Daar was baie skeptici, maar die meeste proefnemings het geslaag, want dis wat die jong mense wou hê. Hulle het op Maandagaand in hul duisendtalle na Pretoria, Stellenbosch, Johannesburg, Potchefstroom, Bloemfontein, Kaapstad en Port Elizabeth opgeruk.

Hoeveel mense was daar Saterdagaand op Loftus toe die Bulle teen die Jaguares (byna die Argentynse toetsspan) gespeel het? Wat was die televisie-kyksyfers landwyd?

En Maandagaand in die LC de Villiers-stadion?

Ja, die stadion is veel kleiner, maar dit was ʼn jong geslag, waarvan die meeste nog nie voorheen by ʼn eindstryd was nie. Dit was die besluitnemers van môre, die beleidmakers van oormôre.

Wat die belangrikste is, is dat Suid-Afrikaanse rugby baat daarby vind, want nuwe spelers verskyn op die horison, dié wat die rugbyspens vol moet maak.

Nou moet hulle net bly raakvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.