Blou Maandag vir die Blitsbokke

Die Blitsbokke het Maandagoggend Suid-Afrikaanse tyd van die veld gestap met die wete dat hulle hul voorsprong in die sewesreeks van Wêreldrugby met nóg twee punte vergroot het.

Maar dit sal weinig troos wees vir die blou Maandag in Suid-Afrikaanse tyd wat hulle op die laaste dag van die toernooi ervaar het.

Eers het hulle, nadat hulle vroeg Sondagoggend die halfeindplek met ʼn indrukwekkende kwarteindsege oor Australië beklink het, in die halfeind teen Argentinië vasgeval. Die  Poemas het die Blitsbokke, wat die hele toernooi duidelik die afwesigheid van hul blitsmanne Justin Geduld en Rosko Specman gevoel het, flenters geduik.

Argentinië se opskietverdediging en aggressiewe inklimspel het die Bokke verhoed om ritme te verkry, en die verdere verlies van Werner Kok in die eerste wedstryd in Las Vegas het hulle uiteraard ook in die res van die toernooi verhoed om behoorlik aan die gang te kom.

Argentinië se wendrie is in die laaste minuut van die wedstryd gedruk, maar die Poemas het die oorwinning met 12-10 deeglik verdien.

En toe het die Blitsbokke ook die derde plek en die bronsmedalje misgeloop toe hulle met 26-22 deur Fidji geklop is.

In albei wedstryde het doelskoppe die deurslag gegee.

Die toernooi is deur die VSA gewen wat, nadat hulle Fidji met 19-7 in die helfeind geklop het, in die eensydige  eindstryd met 28-0 met die Poemas afgereken het.

♦  Die Blitsbokke het vir die derde opeenvolgende week sy voorsprong vergroot, die keer omdat die tweede geplaaste Nieu-Seeland slegs vyfde kon eindig. Die All Blacks is nou 10 punte agter Suid-Afrika. Fidji, wat die bonsmedalje gewen het, het in derde plek egter twee punte op Suid-Afrika ingehaal en is drie punte agter Nieu-Seeland.

♦  Die Blitsbokke speel aanstaande naweek in Vancouver se eerste toernooi – die sesde in vanjaar se reeks – in dieselfde groep as Nieu-Seeland, Skotland en Rusland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dave ·

Nie ‘n blou Maandag nie. Die blitse was fantastic. Om met soveel beserings en onttrekkings uit die span steeds hulle voorsprong te vergroot, wil gedoen wees. Wel gestaan blitse!

Veritas ·

Dave, die diepte in ons sewes rugby is waarlik baie goed. Die afrigtingspan moet geluk gewens word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.