Blues verinneweer powere Rebels

blues-logo-grootDie Blues het die 2017-Superreeks op die beste denkbare manier afgeskop toe hulle die Rebels Donderdag in Melbourne 56-18 geklop het.

Tensy hulle drasties verbeter kan die vrotsige Rebels nouliks bo die Kings, selfs soos hulle verlede jaar gespeel het, op vanjaar se saamgestelde en ander puntelere eindig.

Die Rebels het genoeg balbesit gehad, maar die een kleuterfout na die ander gemaak.

Die Bulls het sewe drieë gedruk nadat hulle kort voor rustyd net 18-15 voor was met die jong sewesheld Rieko Ioane wat op buitesenter drie keer gaan druk het.

Rustyd was die telling reeds 25-15 en die enigste punte van die Rebels na rustyd was ʼn vroeë strafdoel deur Reece Hodge.

Die Rebels het uiteindelik geen drieë by die twee in die eerste helfte gevoeg nie,  hoewel geleenthede met beter hanteerwerk en opsies wel daar was.

Die Blues was goed, soos onder hulle afrigter Tana Umaga verwag is nadat daar in 2016 reeds ʼn verbetering onder hom was.

Hoeveel hulle verbeter het en of hulle ʼn werklike krag sal wees in die nuwe reeks, sal gesien moet word. Die Rebels was nouliks ʼn behoorlike maatstaf.

Puntemakers –

Rebels (15) 18: Drieë: Nic Stirzaker, Jackson Garden-Bachop. Doelskop: Garden-Bachop
Strafdoele: Reece Hodge 2.
Blues (25) 56: Drieë: Pauliasi Manu, Matt Duffie, Rieko Ioane 3, Augustine Pulu, Melani Nanai.
Doelskoppe: Ihaia West 6. Strafdoele: West 2, Piers Francis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Pasop vir die Blues. Met hul nuwe aanwins op skrumskakel vanaf die Chiefs en nuutgevonde selfvertroue is dit ‘n gevaarlike span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.