Blues wys die Leeus wat nog vir hulle voorlê

Dis miskien te gou om te oordeel, want die Britse en Ierse Leeus is nog besig om elke toerlid speelkans te gee, maar hulle sal na die neerlaag Woensdag teen die Blues in Auckland wéét wat vorentoe wag.

Die Blues het op ʼn nat, en later effens modderige veld die skitterende kragmeting met 22-16 gewen en drie baie goeie drieë gedruk teen ʼn span wat na die eerste kwartier tot rustyd die beste daaraan toe was en later gebied beheer het maar uiteindelik nie hulle kanse gebruik het nie.

Die Leeus het ook effens sonder byt op die aanval gelyk. Hulle het met goeie drukverdediging heelwat omkeerbesit bewerkstellig, maar kon dit nie agtertoe gebruik nie.

Ironies genoeg was dit die Leeus se sterkste punt, die lynstaan, wat hulle die laaste kans ontneem het toe hulle die lynstaan ná ʼn hoek-strafskop verloor het. Dit was die laaste faset van die wedstryd.

Die twee uitstaande spelers van die Leeus was CJ Stander, wat hul enigste drie gedruk het, en die slot Maro Itoje. Hý was ʼn letterlike toring in die lynstane, het gewerk en gedryf en afgelaai soos ʼn agterspeler en saam met sy Engelse slotmaat Courtney Lawes in die losskrums goeie werk gedoen.

Vir die Blues, wat pragtig as ʼn span saamgespeel het, moet die naam van Sonny Bill Williams uitgesonder word.

Hy het soos ʼn derduiwel verdedig, goeie opsies geneem, in losskrums ingedons wanneer sy voorspelers effens laat was en homself ongetwyfeld die uitsoeksenter vir die All Blacks se toetsspan gemaak na sy lang Olimpiese achilles-besering en toe sy harsingskudding in Mei, net na sy terugkeer na die speelveld.

Die Leeus se afrigter Warren Gatland sal uiteraard nie gelukkig wees met die vertoning nie, maar hy sal nou ʼn goeie idee begin kry van watter spelers hy waar en saam met wie wil laat speel.

Dit word egter tyd vir raakvat – en vir heelwat werk aan die ritme agterlangs.

Saterdag kom die Crusaders in Christchurch aan die beurt – en húlle is vanjaar Nieu-Seeland se beste en die Blues die land se swakste in die Superreeks.

Puntemakers –

Blues (12) 22: Drieë: Rieko Ioane, Sonny Bill Williams, Ihaia West. Doelskoppe: Stephen Perofeta, West. Strafdoel: West.
Britse en Ierse Leeus (10) 16: Drie: CJ Stander. Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoele: Halfpenny 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

Die B & I Leeus het nog net 2 wedstryde saam gespeel en die Blues speel al die hele seisoen saam, so die berig is bietjie eensydig. Die Leeus gaan nog regkom, die toetse teen die AB’s is wat tel op die toer.

Kiepie ·

As jy die berig weer lees sal jy sien dat die skrywer in sy openingsin reeds noem dat dit nog te vroeg is om te oordeel aangesien die Leeus nog besig is om al hul spelers en kombinasies te toets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.