‘Bly nederig’, het Kitch Christie altyd gesê

Nou vir die eerste plek, sê kaptein Eben Etzebeth. (Foto Sanzaarrugby)

Daar is min dinge so lekker as om die Springbokspan te sien wen.

Ja, die rooi truie het Saterdagaand in Salta die oorwinning ʼn bietjie bederf, maar dit nou daar gelaat.

Vyf wedstryde vanjaar gespeel, al vyf gewen. Drie oorwinnings oor Frankryk, twee oor Argentinië.

Nege drieë gedruk teen die Pumas, en Ierland uit die derde posisie op die wêreldranglys gedruk.

Lekker man, lekker, soos hulle in daardie advertensie sê.

Die kaptein, Eben Etzebeth, het Dinsdagoggend toe hy in Kaapstad aangekom het, gesê die Bokke wil nog twee treë vorentoe neem: Hulle wil die beste span ter wêreld word.

Stadig man, stadig.

Niemand kan daarmee stry dat die Bokke al hoe beter speel nie en dat hulle hopelik die debakel van verlede jaar op die rak geplaas het. Maar ons moenie perspektief verloor nie.

Ja, daar is in Junie ná die eerste toets teen die Franse gesê wag maar vir hul beste span in die tweede toets. Ná die eerste toets teen die Pumas is daar gesê wag maar vir Salta.

Die Bokke het elke keer tong uitgesteek.

Onthou, die Franse is agste op die wêreldranglys, die Pumas tiende, met Fidji boonop voor hulle.

Engeland se tweede bestes (hul beste spelers was saam met die Britse en Ierse Leeus in Nieu-Seeland) het die Pumas in Junie in Buenos Aires met 34-25 en 38-35 geklop.

Die Franse het in die onlangse Sesnasies teen Ierland en Engeland verloor en bra gesukkel om Wallis (20-18) en Skotland (22-16) te klop en ook maar valerig teen Italië (40-18) vertoon.

Dus, klop die Bokke op die skouers vir die oplewing in hul spel, maar moenie te vinnig te veel verwag nie. Dís wanneer ʼn mens jou vingers verbrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bantam ·

Hulle het al klaar weer die wereld beker op papier gewen soos hulle aangaan

wesley ·

Niemand gaan aan nie Bantam, dit is net hoe die media nou weer die storie vertel. Eben het net gese dis n doel van die span om weer bo-op die ranglys te kom… En hoekom mag hul nie sulke doele he nie? Dis doele wat jou dryf tot beter dinge, en al kom mens nie daaruit nie maar hard probeer, kan ons nogsteeds trots wees, veral op die jong manne wat hul liggame op die spel sit sodat ons met ons dik lywe die bank kan volsit en bier drink en kritiseer…

Francois ·

Wat is fout daarmee om daarna te streef om die beste span te word? Etzebeth het nie gesê hulle is dit klaar nie.

Carel Wilken ·

Wesley/Francois. Stem volkome saam met julle. Daar is egter mense in ons land wat net altyd raas en blaas. Wonder wat die kommentaar sou gewees het as Eben Etsebeth gese het dat die Springbokke moet opgegee het en nou maar net vir geld speel… Iemand het op ‘n dag gese: Hou op kla oor die donker – steek ‘n kers aan!

Pieter ·

Pieter Kruger, ek het altyd nogal waardering vir jou kommentaar en beriggewing. Ek kom agter ons kom uit dieselfde era. Kyk egter mooi na Eben Etzebeth se opmerking: “Hulle wil die beste span ter wêreld word”… nie nou dadelik, oormore of noodwendig nog hierdie jaar nie! Dis tog hoe ‘n positiewe en realistiese kaptein sy span met positiewe denke motiveer! Dis ‘n mikpunt waar hulle treetjie vir treetjie heen werk, met vermoë waaroor ons spelers beskik… onder die regte hande. Indien hy, as kaptein, nie positiwiteit en entoesiasme uitstraal nie, hoe kan hy ander inspireer? As jarelange afrigter van verskeie sportspanne, kan ek net vir Eben sê (soos my oorlede pa sou sê): “So praat ‘n bek!”! Dus, nie “stadig man, stadig” nie, maar “doe zoo voort”! Groetnis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.