Bob meen ‘Lem’ was taaiste op veld

Henry Honiball was een van die taaiste spelers wat nóg vir die Springbokke uitgedraf het. (Foto: Gabriel Bouys/AFP)

Bob Skinstad het nie ure se dinkwerk nodig gehad toe Dodge Woodall hom op sy Eventful Lives-podsending vra wie die taaiste rugbyspeler in sy speeldae was nie.

Henry “Lem” Honiball was die blitsige antwoord.

Volgens Skinstad het hy destyds in ʼn wedstryd tussen die Westelike Provinsie en die Haaie die bal opgetel en Durbaniete se losskakel was sy onmiddellike teenstander.

“Ek het gedink dat dit maklik sou wees om oor die voordeellyn te kom; ek moes hom net met die skouer loop.”

Maar die voormalige Springbok-kaptein het hom lelik met Honiball se vlymskerp verdediging misgis.

“Ek het my skouer ʼn bietjie gesak en gedink dat ek gereed is vir hom. Maar toe beland ek in ʼn hospitaal in Claremont!”

Honiball, wat in 35 toetse vir die Springbokke tussen 1993 en 1999 gespeel het, verdien baie meer lof as wat hy gekry het.

Soos wat Pieter Kruger vroeër dinge tereg opgesom het – hy was een van die Bokke se waardevolste spelers.

Hy het 156 toetspunte aangeteken, ’n wenpersentasie van 74% gehad en was in vier toetse onoorwonne teen die All Blacks. Sy enigste nederlae teen die Nieu-Seelanders was toe hy senter gespeel het.

Wyle Ian McIntosh, die legendariese voormalige Haaie-breier, was vol lof vir Honiball.

“Henry was ongetwyfeld die grootste jintelman wat nóg ooit gespeel het hy is beslis die nederigste speler wat ek in my afrigtersloopbaan geken het. Hy het nooit iets terug verwag nie, hy het nooit gekla nie en het nooit sleg van enigiemand gepraat nie,” het McIntosh gesê.

Selfs Tony Brown, die Springbokke se nuwe Nieu-Seelandse aanvalsghoeroe, het erken dat die Estcourt-boorling sy groot held is.

“Die Bokke het hul eie identiteit en hul fisieke spel is ʼn baie belangrike skakel in hul mondering. Terselfdertyd spog die span met ongelooflike atlete; van die beste in die wêreld,” het die Kiwi-losskakel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.