Bobbies sorg vir grootste skok in GB-reeks

Bloemfontein Polisie (Vrystaat) het Saterdag vir die grootste skok tot dusver vanjaar in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker gesorg.

Bobbies, tot op daardie stadium die agteros in Groep A, het die onoorwonne voorloper, Sasol van Secunda (Pumas), met 35-30 verslaan – op, van alle plekke, Secunda.

Sasol het sy verpligtinge in die reeks afgehandel, en hoewel hy seker van ʼn plek in die kwarteindronde is, is ʼn tuisbepaling skielik nie ʼn uitgemaakte saak nie.

In die kwaai mededingende en redelik onvoorspelbare Groep C het die vierde geplaasde Tygerberg (Westelike Provinsie) die voorloper, vir Swallows van Mdantsane (Grens), met ʼn onverwagse groot oorwinning van 43-13 in Ravensmead tot die derde plek laat tuimel.

Progress George (Suidwestelike Distrikte) se sege van 30-27 oor Old Selbornians van Oos-Londen (Grens) plaas hom boaan die groep.

Die erge mededingendheid in die groep word waarskynlik die beste uitgewys deur die feit dat Old Boys, die agteros wat nog nie kon wen nie, in drie wedstryde net vyf punte meer afgestaan het as wat hy aangeteken het.

Sowel College Rovers (KwaZulu-Natal) as Valsbaai (WP) het in Groep D lag-lag vir die kwarteindstryd in aanmerking gekom.

Hoewel hul onderskeie seges oor Sishen (Griekwas) en Western Suburbs (Namibië) te wagte was, was dit verrassend groot. Rovers het op Kathu met 64-5 gewen, en die Baai in Constantia met 60-9.

Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) het ʼn klinkende oorwinning van 46-26 oor Raiders (Goue Leeus) behaal om die voortou in Groep B te neem.

Vereeniging (Valke) se oorwinning van 26-17 oor Welkom (Griffons) op laasgenoemde se tuisveld hou sy hoop brandend om die kwarteindronde te haal.

Old Georgians van Harare (Zimbabwe) se sege van 42-29 oor Vaal Reefs op Klerksdorp besorg aan hom die derde plek in Groep B.

Opgesomde punteleer –

Groep A

Sasol 17, Rustenburg Impala 12, Vereeniging 11, Polisie 6, Welkom 2.

Groep B

QBR 15, Northam 14, OG 12, Raiders 4, Vaal Reefs 2.

Groep C

Progress George 14, Tygerberg 11, Swallows 11, Progress Uitenhage 7, Old Selbornians 6.

Groep D

College Rovers 15, Valsbaai 15, Roses United 5, Sishen 5, Western Suburbs 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erhardt Brand ·

Lag lag in aanmerking? As julle by die wedstryd was sou julle gesien het dat dit glad nie n “walk over” was nie. Ja Rovers was goed, maar die gees, deursettingsvernoë en van Sishen was aansteeklik. Kom kyk kyk bietjie rugby in die platteland en sien hoe dit gedoen word. Hierdie manne speel vir mekaar en Hulle speel vir die trots van die dorp en die streek. En dis waaroor rugby gaan. Trots SHISHEN.

Hewitt ·

Ja nee, 64-5 is definitief nie ‘n walk-over nie. Kan net dink met watse verskriklike passie Sishen gespeel het om slegs met 59 punte te verloor. Klink soos iets uit Brendan Venter se woordeskat die laaste ruk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.