Bog met sir, noem my Bryan of Beegee

Bryan Williams (Foto Facebook All Blacks)

“Hoekom ek?”

Dit was van die eerste woorde van die legendariese All Black-vleuel Bryan Williams, toe hy Vrydagaand verneem het dat hy die agtste Nieu-Seelander rugbyspeler geword het wat tot  ridder geslaan is.

Sir Bryan Williams?

Dis nie hoe  hy bekend wil staan nie, want almal wat hom ken, ken hom net as Bryan, Beegee, Pops of Oupa.

Ek het hom jare gelede gebel en aangespreek as “Mister Williams”. Hy dadelik die gesprek onderbreek en gesê: “You may call me Bryan or Beegee, but never mister. I’m your rugby friend …”

Net soos ander, ook Colin Meads, voor hom, sal dit nie na sy kop toe gaan nie. Daarvoor is hy gans te beskeie, die sout van die aarde. Dis hoekom Nieu-Seelandse rugby in goeie hande is, oor legendes wat hul moue op klubvlak oprol, soos Williams by die Ponsonby-klub in Auckland.

Hy het in 2011 ook voorsitter van die Nieu-Seelandse Rugbyunie geword en dié pos tot 2013 beklee.

Williams het wêreldwyd baie diep rugbyspore getrap, veral toe hy as 19-jarige ingesluit is in die All Black-toerspan in 1970 na Suid-Afrika.

Hy was in die nuus, net nie oor sy bobene wat dikker as boomstompe was nie, oor sy vaart en heup- en lyfswaaie nie, maar omdat hy van Samoaanse afkoms was en een van vier Maori-spelers in die toerspan was.

Hy het in eerste twee toetse sy man deeglik teen Sid Nomis as vleuel gestaan, maar toe begaan die All Black-toerkeurders die groot fout deur hom vir die derde toets as buitesenter te kies, met die senter Grahame Thorne in sy plek as vleuel.

Dit het gevolg nadat Williams in die toerwedstryd teen die Westelike Provinsie, wat die All Blacks met 29-6 gewen het, senter teen Johan Walters en Nelson Babrow gespeel en amok gemaak het.

Maar teen Joggie Jansen en Mannetjies Roux, twee van die beste verdedigers in wêreldrugby?

Die Bokke het die toets in Port Elizabeth met 14-6 gewen en die reeks was feitlik beklink.

Williams het in 1976, nou een van die senior spelers, na Suid-Afrika teruggekeer, waar hy weer en van die groot uitblinkers in ʼn verloor-toerspan was.

Hoe gewild was hy?

“Daar het meer as 1 500 briewe van Suid-Afrikaande ondersteuners op my gewag toe ek in 1970 tuis gekom. Baie huwelikaansoeke,” het hy in ons onderhoud gesê.

Nouja …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niel Mare ·

Bryan het in 1970 teen die Griekwas op die klipharde De Beers stadion gespeel en was die absolute gunsteling en held van die Kleurlingpawiljoen agter die pale . Hierdie ondersteuning het nie lekker in die smaak van die oorheersende blanke pro-Griekwas ondersteuners nie . Boonop klop die draers van die silwervaring die poubloues 27 -6 . Die gort was gaar en na die wedstryd het die bolle gerol en die bierbottels gevlieg .

Flip ·

Hoekom is ek nie verbaas nie. En baie mense dink die Bulle ondersteuners is swak maar ek het hulle nog nie gesien bier bottels gooi soos by nuweland nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.