Bok-blapse kan rigtingwyser vir Leeus wees

britse-leeus-ns-toer-jpg

Kies jy eers jou span dan jou kaptein? Of kies sy eers jou kaptein en dan jou span.

Jake White se keuse met John Smit as kaptein was nie altyd die gewildste een nie, want baie ondersteuners het gevoel dat Bismarck du Plessis ʼn beter haker was. Maar White het by Smit gestaan, die Bokke het die Drienasies  (2004) en die Wêreldbekertoernooi in 2007 gewen. Wat meer kan ʼn mens sê?

Die keurders van die Britse en Ierse Leeus sit met ʼn taai tameletjie (ek het altyd gewonder hoe lyk en proe een, maar weet steeds nie) wanneer hulle die kaptein vir die komende toer na Nieu-Seeland moet aanwys.

Die groot probleem is dat die Engelse haker en kaptein, Dylan Hartley, nie seker van sy plek in die opdrafspan is nie.

Moet die keurders met só ʼn speler waag? Of moet hulle eerder Rory Best van Ierland, Alun Wyn Jones van Wallis, Greg Laidlaw van Skotland  of selfs Owen Farrell van Engeland oorweeg?

Dit het my laat terugdink aan die Bokspan wat in 1956 deur Australië en Nieu-Seeland getoer het.

Salty du Rand was die aangewese keuse, hy was ervare en seker van sy plek in die Boktoerspan, maar toe rol hy en Jan Pickard bolle kort voordat die toerspan aangekondig word.

En wat doen die keurders? Hulle kies die onervare, maar gewilde Vrystaatse heelagter Basie Vivier, wat vroeg in 1956 net drie wedstryde vir Vrystaat gespeel het voordat hy vir die volgende agt uit die span gelaat is.

Vivier was in 1951/’52 saam met Hennie Muller (en Basil Kenyon) se Bokspan in Brittanje en Frankryk, maar hy het net in 14 toerwedstryde en nie in een toets gespeel nie. Hy het sy toetsbuiging eers in die eerste toets in 1956 in Australië gemaak en het nie in al die toetse teen die Wallabies en All Blacks gespeel nie. Vir die rekord, die Bokke het die eerste keer ʼn reeks teen die All Blacks verloor.

In 1965 is dit allerweë verwag dat een van Abie Malan of Doug Hopwood die Bokke na Nieu-Seeland en Australië sou aanvoer.  Maar die keurders kies toe die 25-jarige tokkelok Dawie de Villiers, wat nog net in drie toetse gespeel het, met Nelie Smith (sy mede-skrumskakel) as die onderkaptein. Vir die rekord: Die All Blacks het die reeks gewen.

In 1981 was Wynand Claassen die Bok-kaptein. En wat doen die toerkeurders? Hulle pos Claassen vir die eerste toets en die Bokke verloor.  Vir die rekord: Die All Blacks het die reeks gewen.

Nou staan die Britse en Ierse keurders voor dieselfde probleem.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

‘n Kaptein word gekies op leiersvermoë, maar sy posisie in die span moet nie verskans wees nie. As daar gesien word dit werk nie, of hy kom nie die mas op nie, moet hy uitgelaat kan word.

Frans C ·

Kies eers die beste spelers in elke posisie en wys dan die kaptein aan. Daar sal genoeg leiers tussen die speleres wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.