Bok-Bok staan styf … en so ook die Iere, Wallis en die Yanks

Wie sou dit twee weke gelede kon voorspel het?

ʼn Springboksege van 2-0 in die reeks teen Engeland, ʼn uitgedunde Walliese span wat eers die Springbokke in Washington klop en toe die  Poemas met 2-0 in die reeks in Argentinië uitstof, Ierland wat die Wallabies die eerste keer sedert 1979 in Australië klop.

Dan is daar ook Amerika, wat onder Gary Gold sy vierde opeenvolgende sege behaal het nadat die Amerikaners Skotland in Houston met 30-29 geskok het; en die All Blacks wat sukkel om die uitklophou teen die Franse te plant, hoewel die Hane vir byna 70 minute lank met net 14 spelers moes klaarkom.

Wêreldrugby se ranglys word Maandag aangepas, maar as die berekenings reg is, bly die All Blacks gemaklik in die eerste plek, die Iere is steeds tweede, die Springbokke is nou derde, die Wallabies vierde, Wallis vyfde en Engeland skuif af sesde toe.

Wat beteken dit met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan?

Die All Blacks hou die hef in die hand, want hulle het diepte, momentum en hou aan wen, al speel hulle die dag swak.

Maar die Iere, Bokke, Wallabies en Wallis het na vore getree as die sterkste aanspraakmakers.

Dit gaan oor selfvertroue, diepte, om die regte besluite te neem en kanse te gebruik.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, is besig om raak te vat en wanneer die beseerde spelers soos Malcolm Marx, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Coenie Oosthuizen en Warren Whiteley binnekort weer beskikbaar is, kan die pak nog groter uitdagings stel.

Dink net daaraan as Marx, Etzebeth, Duane Vermeulen, Steven Kitshoff en Thomas du Toit op dieselfde dag saamspan ?

Agterlangs wag daar nog skaafwerk. Wat gebeur as Handré Pollard seerkry? Is Damian de Allende en Lukhanyo Am die beste senterpaar? Is die agterste driehoek veilig genoeg onder die hoë bal?

Gaan Frans Steyn vergewe word en hom by die Bokspan aansluit om diepte te verleen? Wat van die brose verdediging?

Nietemin, dis weer lekker om rugby te kyk en om die braaivleisvure daaroor te gesels, en dis weer lekker om glimlaggende ondersteuners hul Springboktruie met trots te sien dra.

Die naweek se belangrikste uitslae ‒
Suid-Afrika 23 Engeland 12; Nieu-Seeland 26 Frankryk 13; Ierland 26 Australië 21; Wallis 30 Argentinië 12; Amerika 30 Skotland 29; Italië 25 Japan22; Fidji 37 Georgië 15; Tonga 28 Samoa 18; Kanada 20 Rusland 43.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wesley ·

Dit is waar dat jy jou momentum bou 2 jaar voor n WB. Alhoewel ons gestotter het laaste twee jaar behoort daar genoeg tyd wees om aanspraak te maak vir die beker. ABs nog die voorlopers maar sukkel met disipliene op verdediging en met wiele aan die rol op wereldrugby vlak met gevaarlike spel wat gestuit moet word sal hul baie vinnig moet aanpas. Hansen se sagte woorde oor vuilspel help ook nie die situasie vir hul nie. Ons sover baie displineerd op daai vlak en alhoewel baie sal se dit is omdat ons nie hard soos ABs speel nie sal ek liewer sien dat ons skoon rugby speel sonder dat iemand in n lykwa moet weg gery word nie.

Niklaas ·

Hoekom is ons nou so optimisties oor die Bokke ? As die 50 % kwota reel van toepassing is met die wereldbeker in 2019 gaan die Bokspan weer sleg begin verloor

Gemaskerde Sopbeen ·

Na die wedstryd sê die “Speler van die Wedstryd”: “Ek gaan hierdie in Afrikaans sê: Dankie vir al die SUPPORT!!!” Nou kan ek nie anders nie en moet dan maar seker ook in Afrikaans vir ou Duane Vermeulen sê: “Congratulations my ou!!!” Die Afrikaans is darem maar so ‘n mooi taal, is dit nie?

alwyn burger ·

Die gesanik oor die kwotastelsel kan ons nou maar staak. Dit het gekom om te bly. Dit is ñ gegewe soos die feit dat SA ñ waterskaars landbouland is. Ons moet nou maar aanvaar en begin om dit te bestuur!.Daar is geen ander uitweg!

Gerhard ·

Die gesanik oor rasistiese kwotas is hier om te bly. Raak maar gewoond daaraan.

nico k ·

Ek dink nie die senterpaar is so swak nie. Veral de Allende het ‘n goeie wedstyd gehad. Hy het die krag en spoed en sy werksverigting het saterdag opgetel.

Koos ·

‘n Springbok binnesenter moet darem ook die bal kan versprei

chris schoeman ·

Is die Bokke nie nou 5de nie? Die berig praat van 3de?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.