Bok en oudskolespeler maak skande in Engeland

Ashley Johnson – geskors. (Foto: YouTube)

ʼn Springbok en ʼn gewese KwaZulu-Natalse skolespeler het ʼn opkikkerskande oor Engelse rugby gebring.

Ashley Johnson (31) en Brandon Staples (20) is in onverwante voorvalle aan die gebruik van verbode middels skuldig bevind.

Luidens berigte is Staples, wat flank vir die tweedeligaklub Yorkshire Carnegie speel, die eerste opkikkerverwante skorsing sedert 2011 in Engelse rugby.

Hy is vir vier jaar geskors nadat hy in Augustus verlede jaar positief vir die gebruik van die middels dehidrochlorometiel-testosteroon, metandienoon en stanosolol getoets het.

Dit is dieselfde drie middels waarvoor die naelloper Ben Johnson sy Wêreldtitel (1987) en Olimpiese goue medalje vir die 100 m (1988) moes teruggee, en twee wêreldrekords moes inboet.

Staples, wat KZN ʼn paar jaar gelede by die o.13- en o.16-skoleweke verteenwoordig het, het teen sy skuldigbevinding geappelleer, maar dit is van die hand gewys.

♦ Johnson, wat in 2011 in drie toetse vir Suid-Afrika gespeel het, is deur die Engelse Rugbyunie (RFU) geskors nadat hy op 7 Februarie positief vir ʼn verbode middel, blykbaar ʼn diuretikum, getoets het.

Dié soort middel werk gewigsverlies in die hand, maar word dikwels as maskeermiddel aangewend om die gebruik van ander verbode middels te verdoesel.

Die bron word glo nog nagespeur, en na verneem word, werk sowel Johnson as sy klub, Wasps, saam in die ondersoek.

Die gewese Bok- en Cheetahs-losvoorspeler het sedert hy in 2012 by Wasps aangesluit het met groot sukses na haker verskuif, en die klub al verskeie kere aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

king kong . ·

Daar is talent hier betrokke wat maklik n top rol sal weg slaat vir n posisie in n fliek ! Steroides ai manne ai leer jul dan nooit nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.