Bok Goosen speel weer ná sy omstrede ‘uittrede’

Johan Goosen breek deur teen Argentinië (Foto: GB Jordaan)

Die gesaghebbende Franse sporttydskrif L’Equipe het Donderdagoggend berig dat die Springbok-losskakel/heelagter Johan Goosen weer in Frankryk gaan rugby speel.

Goosen, wat in November 2016 met ʼn verskoning Racing92 verlaat het om in Suid-Afrika ʼn direkteur te word van ʼn perde-stoetery, se onvoltooide kontrak met Racing is deur die skatryk president van Montpellier, Mohed Altrad, uitgekoop.

Racing het met sy vertrek beweer Goosen het nie die reg gehad om midde-in sy kontrak op te hou om vir hulle te speel nie.

Hy het nog 2½ jaar van sy kontrak by Racing gehad om na te kom toe hy “uitgetree” en die pad Suid-Afrika toe gevat het.

Goosen, 25, het in 13 toetse vir Suid-Afrika gespeel.

Dit het Altrad 1,5 miljoen euro (sowat R21,5 miljoen) gekos om Goosen se kontrak uit te koop en sy dienste te verkry. Hy sal glo in Julie by sy nuwe klub aansluit en eers in die nuwe seisoen aan die einde van die jaar vir Montpellier begin speel.

♦  Montpellier het natuurlik ʼn sterk verbintenis met Suid-Afrikaanse spelers waar Jake White afgerig het – en Springbokke en van Suid-Afrika se bestes opkomende spelers soos onder andere die Du Plessis-broers Jannie en Bismarck, Paul Willemse, Jacques du Plessis, Nico Janse van Rensburg, Wiaan Liebenberg, Ruaan Pienaar, Francois Steyn en Jan Serfontein was vanjaar in Montpellier se spelersgroep.

♦  Aaron Cruden, wat verlede seisoen nog die All Blacks se nommer 2-losskakel was, sal in dié posisie Goosen se grootste struikelblok wees om span te haal. Pienaar, steeds een van die beste skrumskakels in Europa, sal waarskynlik Goosen se skakelmaat wees as hy op losskakel gekies word.

Sou Montpellier vir Goosen eerder as heelagter wil gebruik, sal Jesse Mogg (eks-Wallaby), en die twee Franse Benjamin Fall en Joffrey Michel, teen Goosen opgeweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.