Bok-legende se seun kry 18 punte in Franse liga

Die seun van ʼn Springbok-legende het 18 van sy span se 23 wenpunte in die jongste ronde van die Franse Pro D2-liga aangeteken.

Danré Gerber (losskakel), ʼn gewese Curriebeker-senter van die Boland, se ses strafdoele het Mont de Marsan in staat gestel om die voorloper, Perpignan, met 23-18 te klop.

Hy is die seun van die legendariese Boksenter Danie Gerber.

Franse Top14-liga

♦ In die Franse Top14-liga het die Bokke Bismarck du Plessis en Ruan Pienaar hulle weer eens op die telbord laat geld – dié keer in hul span se sege van 40-24 oor La Rochelle.

Du Plessis (haker) het ʼn drie gedruk, en Pienaar (skrumskakel) het vyf van die span se ses drieë verdoel.

Paul Jordaan (buitesenter), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir La Rochelle gedruk.

Nadat 23 uit 26 wedstryde afgehandel is, is Montpellier met 28 ligapunte ses voor die tweede geplaaste Racing 92.

♦ Johann Sadie (buitesenter), ʼn gewese SA o.20-speler wat vir verskeie spanne Superrugby gespeel het, het ʼn drie vir Agen in sy oorwinning van 36-21 oor Oyonnax gedruk

♦ Rory Kockott (skrumskakel), ʼn gewese Superrugbyspeler van die Lions en die Sharks, wat toetsrugby vir Frankryk gespeel het, het ʼn strafdoel vir Castres teen Toulouse op die telbord geplaas.

Sy span het met 28-23 gewen.

♦ ʼn Doelskop was die Bok Morné Steyn se bydrae as plaasvervanger in Stade Français se wegholsege van 50-13 oor Clermont.

♦ Johan Snyman (slot) van Brive het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 25-27 teen Lyon.

Hy het Suid-Afrika op o.19-vlak verteenwoordig en Curriebeker-rugby onder meer vir die OP Kings gespeel.

Pro D2-liga

♦ Die gewese Superrugbyspeler Burton Francis (losskakel) het tien punte met ʼn drie, ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Grenoble teen Colomiers in die Franse Pro D2-liga aangeteken.

Grenoble het die kragmeting met 46-23 oorheers.

♦ In Bayonne se naelskraapse sege van 23-22 oor Colomiers het PJ van Lill (agsteman) en sy plaasvervanger Aidon Davis elk ʼn drie vir die wenspan gedruk. Laasgenoemde se drie in die 71ste minuut het Bayonne op die wenpad geplaas.

Die 34-jarige Van Lille het Namibië in 45 toetse verteenwoordig, en die gewese SA o.21-speler Davis het Superrugby vir die Kings gespeel.

♦ Nóg ʼn man wat vir SA o.21-gespeel het, Pellow van der Westhuizen (haker), het ʼn drie vir Montauban in sy sege van 30-20 oor Dax gedruk.

Hy het die Sharks, die Luiperds en die Pumas se truie in die Curriebekerreeks gedra.

♦ Mzwanele Zito (slot) het ʼn drie vir Carcasonne in sy nederlaag van 19-38 teen Beziers gedruk.

Hy het Suid-Afrika in ʼn o.18-Afrikatoernooi verteenwoordig, en Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte en Griekwas gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Kan enige sport joernalis ASSEBLIEF aan my verduidelik waarom daar altyd na jong sport sterre se ouers en oer ouers verwys word nadat die sport sterre uitsonderlike prestasies op die sportveld behaal het? Hierdie atlete presteer op die veld en is dit tog nie hulle ouers en oer ouers se prestasie wat vermelding nodig het nie. Hulle is individue wie heelwaarskynlik die ouers se prestasies na niksseggend laat lyk, maar tog kleef die ouers se prestasies aan die kinders!?

rollie ·

Met hierdie outjie het die appel ongelukkig nie naby genoeg aan die boom geval nie. Sy pa was darem maar een van die bestes ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.