Bok-legende se seun verniel Franse teenstander

Danre Gerber - 23 punte. (Foto: Rugby Terre)

Danré Gerber – 23 punte. (Foto: Rugby Terre)

Die seun van `n legendariese Springbok het Vrydag sy klub, Mont de Marsan, se teenstander in die Franse Pro D2-liga flenters geskop.

Danré Gerber, die seun van die Doring van Despatch, Danie Gerber, het met sewe strafdoele en `n doelskop (23 punte) al sy span se punte, behalwe `n drie, aangeteken om Colomiers 28-18 in die Guy Boniface-stadion, Mont de Marsan, te troef.

Gerber jr het as senter Curriebekerrugby vir die Boland gespeel voor hy Frankryk toe verhuis het.

Dis interessant dat die man wat al Colomiers se punte, ses strafdoele (18), behaal het, Christopher Hilsenbeck, tot onlangs Duitsland se nommer een-keuse op losskakel was, maar vir die afgelope leeutemmerstryd teen Roemenië deur die Suid-Afrikaner Raynor Parkinson vervang is.

Parkinson het Saterdag 18 punte vir Duitsland behaal in sy skoksege van 41-38 oor die Eike, die Duitsers se eerste in oor die 70 jaar dat dié twee lande teen mekaar speel.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Springbok Schalk Brits die tweede opeenvolgende wedstryd `n drie vir Saracens gedruk.

Jeandre Mynhardt (regs). (Foto: L'independant)

Jeandré Mynhardt (regs). (Foto: L’independant)

Gloucester het die wedstryd op sy tuisveld, Kingsholme, teen die heersende Engelse kampioen 31-23 gewen.

Fédérale 1-liga

♦ In die afgelope ronde van die Franse Fédérale 1-liga het nóg twee gewese Curriebekerspelers van die Boland, Ulrich Pretorius (haker) en Johan Peacock (slot), drieë vir Straatsburg in sy oorwinning van 36-6 oor Graulhet gedruk.

♦ In dieselfde reeks het die 35-jarige slot Jandré Mynhardt `n drie vir St Médard in sy sege van 31-14 oor Bagnares aangeteken.

Mynhardt het Curriebekerrugby vir die Griffons, die Luiperds en die Natalse Sharks gespeel.

♦ `n Gewese Curriebekerspeler van Griekwas, Dean Grant (plaasvervanger-losskakel), het `n strafdoel vir Chambery teen Massy behaal, in `n wedstryd wat laasgenoemde 27-9 beklink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.