Bok-mooipraatjies het opgedroog

Hier gaan ons al weer.

Dis nou nie na die televisieprogram waarna verwys word nie, maar na die soveelste keer dat ʼn Springbokspan voor ʼn kruispad staan om veggees te toon, om op te staan en voort te veg – en om die letsels van voorverlede week se vernederende nederlaag van 57-0 teen die All Blacks te probeer afskud.

Springbokrugby is soos ʼn mallemeule, dán is dit op en dán is dit af.

Dink maar terug aan 1964/’65 se spanne wat agt uit tien toetse verloor het; of aan die Bokke wat in 2002 met 3-53 teen Engeland vermorsel is, wat in 2006 met 49-0 deur die Wallabies in die skande gesteek is, die eerste keer ooit deur Japan, Italië en Argentinië geklop is; en wat die All Blacks nog net twee keer sedert 2010 in 16 toetse kon klop en die laaste drie toetse met 0-57, 15-57 en 13-41 verloor het.

Daardie vroeëre spanne het opgestaan.

Vreemd soos dit mag klink, maar die Bokke het alles op die tafel om ʼn feesmaal van die Wallabies in Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap te maak.

Vorige Wallaby-spanne, wat in 1991 en 1999 die Wêreldbeker gewen het en in die eindstryde van 2003 en 2015 verloor het, het al in Suid-Afrika teen die Bokke kleigetrap.

Wedstrydwenners soos David Campese, Joe Roff, Tim Horan, Stephen Larkham, George Gregan, John Eales en David Pocock het teen die Bokke gesukkel.

Kan ʼn mens die huidige Wallaby-span met spelers soos Reece Hodge, Jack Dempsey en Izack Rodda met die grotes vergelyk?

Afgesien van Israel Folau, Kurtley Beale, Will Genia en Michael Hooper, hoeveel Wallabies sal ʼn gekombineerde Bok-Aussie-span haal?

Die Wallabies het ook laas in 2011 in Suid-Afrika gewen en het hul laaste vier wedstryde in Suid-Afrika verloor.

Rugby in Australië is ʼn warboel en die vertoning van hul Superrugbyspanne gaan gaandeweg agteruit.

Ek wil dus my kop ʼn blok sit: die Bokke het meer as genoeg skietgoed om die Wallabies te klop.

Van die krake is toegemessel. Ross Cronje se insluiting op skrumskakel sal ʼn groot verskil maak, ook aan Elton Jantjies.

Die vertoning van die Bok-senterpaar van Jan Serfontein en Jesse Kriel boesem vertroue in en die agterste driehoek kan nie weer so sukkel soos teen die All Blacks nie.

Vurige voorspelers soos Malcolm Marx, Eben Etzebeth en Francois Louw  behoort die kitaar te slaan en die bank kan ʼn impak maak.

Kom ons kyk na die Bokke se vertonings in Bloemfontein teen die Wallabies: vier toetse sedert 1933 gespeel, twee gewen en twee verloor.

Dis dalk nie die bondgenoot waarop daar gehoop is nie, maar daar is nie meer ʼn uitdraaipad nie.

Stel sake teen die Wallabies reg. Verskonings en mooipraatjies het lankal opgedroog.

Spanne –
Suid-Afrika

15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronje, 8 Uzair Cassiem, 7 Francois Louw, 6 Siya Kolisi, 5 Francois Mostert, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Rudy Paige, 22 Handré Pollard, 23 Damian de Allende.

Australië
15 Israel Folau, 14 Marika Koroibete, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kurtley Beale, 11 Reece Hodge, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Jack Dempsey, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Sekope Kepu, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Stephen Moore, 17 Tom Robertson, 18 Allan Alaalatoa, 19 Rob Simmons, 20 Lukhan Tui, 21 Ned Hanigan, 22 Nick Phipps, 23 Samu Kerevi, 24 Henry Speight.

Skeidsregter: Ben O’Keefe (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters: Jérôme Garcès (France), Shuhei Kubo (Japan).
Televisieskeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).
Verwagte weer: Mooiweer, maar met ʼn kans vir reën.

Afskop: 17:05

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Voor ons te opgewonde word oor die Bokke moet ons net onhou dat beide die Wallabies en die Poemas BAIE beter teen die AIl Blacks gevaar het in hul laaste toetse hierdie jaar. Die Bokke was AFGERANSEL en VERNEDER. Skande! Daar is ‘n baie belangrike rede daarvoor. Ons span word nie op meriete gekies nie terwyl geen politiese kwotas ter sprake is in ander internasionale spankeuses nie.

Dereck Le Roux ·

Ons moet erken dat die huidige Springbokspan, afrigtingspan, bestuurspan en Hoofbestuurspan in SA Rugby nie internasionaal opgewasse is om te kan meeding met gehalte internasionale spanne nie en ook nie kan voorbly met verskonings en redes waarom Springbokrugby by die kruispad is nie, dit wil vir ‘n mens voorkom of dit lekker geword het om kamp op te slaan by die kruispad en kan nie weg beweeg daarvan af nie.

stephen ·

Die Bokke en afrigtingspan kan maar solank begin dink aan nuwe verskonings na Saterdag

Rupert Ashford ·

So die skrywer wil regtig vir ons se net 4 Wallabies sal in ‘n gekombineerde span ingesluit word as die span deur ‘n onafhanklike span keurders en afrigters gekies word om teen NZ in NZ te speel?

stephen ·

Die Bokke en Afrigtingsspan moet maar solank hul verskonings begin agtermekaar kry na Saterdag

Callie ·

Ag kan die kwotaspan tog net wen teen n baie swak Ausie span. Indien verloor, asb, gooi dan volende week se game teen AB. Kan waaragtig nie nog sulke vernederings aanvaar nie

Christo Visagie ·

Lagwekkende berig,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,meeste van ons Sprinbokke sal nie daai span haal nie,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,en ons rugby is in sy dinges in.

Lukie Carelsen ·

Jammer, die rede vir die “Bokke” se skandes is die politiese inmenging en beheer oor ons sport. Allister Coetzee se gladdebek praatjies is so groot grap! Almal, behalwe hyself, lag vir hom! Hy kry sy vet tjek aan die einde van elke maand solank hy die “Bokke” laat verloor en sy kwotas bereik. Hy moet waai! ASSEBLIEF! Kan ons nie ons spanne op merite kies nie? Ons soek nie ‘n totale onbevoegde, onbeholpe, “useless” afrigter soos Allister Coetzee nie! Ons wil ‘n Springbokspan op meriete gekies he! FInish en klaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.