Bok se kleinneef tussen Wallis se ongelukkigste

Hanno Dirksen – deur beserings geteister. (Foto: Twitter)

ʼn Bobaas-Springbokvleuel se kleinneef word as een van die ongelukkigste Walliese spelers geag wat beserings betref.

Hanno Dirksen word deur die webwerf Wales Online as een van die 12 grootste ongeluksvoëls in dié land se rugby gelys.

Desondanks is hy een van die voorste driedrukkers in die geskiedenis van die Swansea-gebaseerde streekspan, die Ospreys, en word hy lankal as ʼn kandidaat vir die nasionale span beskou.

Luidens die berig het Dirksen in 2012 ʼn kraakbeen in sy knie beseer, wat hom ʼn jaar lank van die veld gehou het. Sedertdien het hy nog ʼn paar ernstige terugslae beleef, onder meer ʼn enkelbesering wat hom drie maande op die kantlyn gehou het, en nog ʼn kniebesering wat hy teen die Cardiff Blues opgedoen het.

Hy is sedert verlede jaar op die krukkelys ná nóg ʼn kniebesering, dié keer teen Munster.

Saam met Dirksen op die lys is die tweemalige kaptein van die Britse en Ierse Leeus en mees ervare Walliese aanvoerder, Sam Warburton, Gareth Anscombe, Jeff Hassler, Emyr Phillips, Eli Walker, Tyler Morgan, Ashley Beck, Hallam Amos, Gavin Henson, Jack Dixon en Dan Lydiate.

Dirksen is die seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen, wie se broer, Corra, Suid-Afrika van 1963 tot 1968 in 11 toetse as vleuel verteenwoordig het.

Hansie se ander seun, Cornelius, het in 2012 twee keer vir Amerika vleuel gespeel.

Corra se rugbyloopbaan is nes Hanno s’n deur knie- en enkelbeserings gekortwiek, en syne is op die ou end daardeur kortgeknip. Hy het onder meer die Springboktoer van 1965 na Australië en Nieu Seeland as gevolg van ʼn besering misgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martin H ·

piet kleinneef en broerskind is nie dieselfde nie. maar dankie vir jou bydraes oor ander rugby-liga’s as die Engelse Premiership en Franse Top 14. Rugby groete
Martin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.