Bok-seisoen begin teen Eddie se Aussies

Jacques Nienaber. Foto: ANA.

Die Springbokke se internasionale seisoen begin in alle erns wanneer hulle op 8 Julie teen Eddie Jones se Wallabies op Loftus Versfeld kragte meet.

Maar alle paaie lei vanjaar na die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk en ná ʼn verkorte Rugbykampioenskap sal die Suid-Afrikaners drie opwarmingswedstryde weg van die huis – teen Argentinië, Wallis en die All Blacks (op Twickenham) – speel.

Die Wêreldbeker-aksie begin amptelik op 10 September teen Skotland in Marseille, terwyl daar ook swaarde met Roemenië, Ierland en Tonga in die ander groepwedstryde gekruis word.

Volgens Jacques Nienaber is die Springbok-bestuur reeds hard aan’t werk agter die skerms om die span se Wêreldbeker-pad so glad as moontlik te maak.

“Ons is op koers om ons beplanning vir die seisoen te finaliseer en ons is opgewonde om na die oefenveld terug te keer,” het die Springbok-afrigter gesê.

Die Springbokke se Eben Etzebeth. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Maroela Media het juis vandeesweek berig dat daar moontlik na ʼn skeidsregter-spesialis gekyk word om die groep met hul voorbereidingswerk by te staan. Dit is immers alombekend dat spanne wat beter by die skeidsregter se interpretasie van die reëls aanpas, ʼn groter kans staan om die wedstryd te wen.

Die Springbokke is vanjaar weliswaar net twee keer voor hul tuisskare in aksie (in Pretoria en Johannesburg), maar Nienaber wil die beste van elke geleentheid maak.

“Loftus Versfeld en Emirates Airline-park is ikoniese stadions en ons is opgewonde dat ’n baie belangrike rugbyseisoen daar afskop.”

Bepalings:

8 Julie: Springbokke teen Australië (Loftus Versfeld)

15 Julie: Springbokke teen Nieu-Seeland (venue moet nog bevestig word)

29 Julie: Springbokke teen Argentinië (Ellispark)

5 Augustus: Springbokke teen Argentinië (venue moet nog bevestig word)

19 Augustus: Springbokke teen Wallis (Principality-stadion)

25 Augustus: Springbokke teen Nieu-Seeland (Twickenham)

10 September: Springbokke teen Skotland (Stade Vélodrome)

17 September: Springbokke teen Roemenië (Stade de Bordeaux)

23 September: Springbokke teen Ierland (Stade de France)

1 Oktober: Springbokke teen Tonga (Stade Vélodrome)

14‑28 Oktober: Wêreldbeker-uitspeelwedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.