Bok-skrumskakel skitter in Engelse Premierliga

Nóg ʼn Springbok-skrumskakel het ʼn skittervertoning in die jongste ronde van die Engelse Premierliga gelewer.

Piet van Zyl se aanwysing as speler van die wedstryd in die kragmeting tussen London Irish en Harlequins, volg op die puik spel wat Faf de Klerk die afgelope tyd vir Sale lewer.

Van Zyl het die agteros in die liga, London Irish, met drieë in die 14de en 22ste minuut op die wenpad geplaas, en op die koop toe met ʼn perfek geplaaste steekskoppie die span se bonuspuntdrie bewerkstellig.

Laasgenoemde is as die drie van die wedstryd aangewys.

In dié proses het Irish grootliks verras deur Quins met 35-5 op te dreun.

Dit was een van drie drieë van die wedstryd waarin Suid-Afrikaners ʼn hand gehad het.

♦ Die Bok Schalk Brits (haker) se drie vir Saracens – een van nege wat Sarries in sy sege van 63-13 oor Northampton gedruk het – het eweneens dié onderskeiding te beurt geval.

Brits het ʼn netjiese ingooi in die lynstaan opgvolg en was byderhand om die aangee te vat en te gaan druk.

♦ Die derde topdrie was Nick Schonert (vaskopstut) van Worcester se eerste drie in die Premierliga.

Sy spanmaat Bryce Heem is ná ʼn knap lopie gestuit, en die gewese stut van SA o.21 en die Sharks, was op die toneel om die bal te vat en daarmee oor die doellyn te wurm.

Die drie in die 67ste minuut het Worcester in staat gestel om die voortou te neem en hy het op die ou end die kragmeting teen Newcastle oortuigend met 27-13 gewen.

♦ Ruan Ackermann (agsteman), wat Superrugby vir die Lions gespeel het, het ʼn geel kaart in Gloucester se wedstryd teen Exter gekry.

Exeter, die reeksvoorloper, het die botsing met 46-10 gewen.

Pro 14-liga

♦ Die Suid-Afrikaans-gebore Hanno Dirksen, een van die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) se topdriedrukkers, het teen die Ierse provinsie Connacht nog ʼn slag agter die doellyn gaan kuier.

Die Wallisers het die kragmeting in die Pro14-liga met 39-10 gewen.

Engelse Kampioenskap

♦ In die Engelse Kampioenskap het Nick Fenton-Wells (plaasvervanger-haker) twee drieë vir die voorloper, Bristol, gedruk toe hy Nottingham met 60-17 gelooi het.

In sy Stormers-dae het hy aan die kant van die skrum gesak.

♦ Jared Saunders (haker) het Jersey gehelp om ʼn verloor-bonuspunt in te samel toe hy in die doodsnikke van sy span se wedstryd teen Yorkshire Carnegie oorgeduik het,

Laasgenoemde het met 26-21 gewen.

Saunders het die Goue Leeus by die o.18-Akademieweek verteenwoordig.

Brendan Cope (losskakel), ʼn gewese o.21-speler van die Sharks, het al drie Jersey se drieë verdoel.

♦ Die Suid-Afrikaans-gebore Luke Daniels (heelagter) het twee van Ealing Trailfinders se drie drieë verdoel toe sy span verrassend met 50-19 deur Doncaster afgeransel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.