Bok-toergroep: Ja vir Libbok, nee vir Goosen

Manie Libbok skop oor die pale. (Foto: Twitter/ DHL Stormers)

Die Springbok-bestuur het die groep bekendgemaak wat op hul jaareindtoer met Ierland, Frankryk, Italië en Engeland sal kragte meet.

Tussen ou bekendes soos Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, Eben Etzebeth en Faf de Klerk sal spelers soos Manie Libbok en Sacha Mngomezulu ook ʼn kans kry om te wys wat hulle op die internasionale verhoog kan doen.

Libbok en Damian Willemse is trouens die enigste losskakels in die groep, met Johan Goosen wat onder Mzwandile Stick se SA A-spelers tel.

Die 25-jarige Libbok is weliswaar as die Stormers se speler van die jaar aangewys en sy aanvalsvermoë kan inderdaad die Springbokke na nuwe hoogtes neem, maar wanneer hy met sy selfvertroue sukkel, raak dinge skielik minder rooskleurig.

Die ervare Rhys Priestland was byvoorbeeld strate beter in die Stormers se onlangse wedstryd teen Cardiff.

Dan is Evan Roos en André Esterhuizen ook deel van die groep, terwyl Cheslin Kolbe weer sy toorkuns in die Springbok-trui sal uitstal.

Voorlangs maak Jason Jenkins ʼn welkome terugkeer, terwyl Marco van Staden en Deon Fourie ook deel van die Bok-planne is.

Jacques Nienaber. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

“Ons speel teen drie van die wêreld se voorste spanne, terwyl ons self ook aan ʼn span vir die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk bou. Kontinuïteit is belangrik wat spankeuses betref, terwyl ons ook jong talentvolle spelers vir hul goeie werk wil beloon,” het Jacques Nienaber gesê.

Die Springbok-afrigter is opgewonde oor die insluiting van jong sterre soos Libbok, Mngomezulu en Jenkins.

“Manie en Sacha het in die Verenigde Rugbykampioenskap gewys waartoe hulle in staat is, terwyl Jason goeie rugby vir Leinster speel.”

Die Springbokke vertrek hierdie naweek na Ierland en hulle sal Maandag in Dublin byeenkom om vir volgende Saterdag se wedstryd teen Ierland voor te berei.

Springbokke:

Voorspelers: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Ox Nché, Vincent Koch, Trevor Nyakane, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Jason Jenkins, Salmaan Moerat, Marvin Orie, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Evan Roos, Kwagga Smith, Marco van Staden, Jasper Wiese, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Cobus Reinach, Manie Libbok, Damian Willemse, Damian de Allende, André Esterhuizen, Jesse Kriel, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, S’bu Nkosi, Kurt-Lee Arendse, Cheslin Kolbe en Sacha Mngomezulu.

Springbokke-bepalings:

5 November teen Ierland

12 November teen Frankryk

19 November teen Italië

26 November teen Engeland

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boer ·

Vir seker is dit ‘n goeie bokspan, ek dink ons kan daardie noordelike spanne ‘n goeie opdraand gee. Rassie werk weer met ‘n plan vir die wêreldbeker. Duane gaan weer WB toe, hy moet net eers wedstrydfiks raak.

POPEYE ·

Duane se tyd is verby. Hy lyk nie meer lus vir speel as hy op die veld is nie.

Anel ·

Hoekom ‘n kans vat met iemand wat nie die selfvertroue het nie? Libbok gaan dit nie maak nie.

Henry ·

Bring die du preez tweeling trug op flank en agsteman …psdt is geen flank ,is n slot

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.