Bok-toerkeurders vat toe wel raak

Franco Mostert – terug na sy ruskans. (Foto GB Jordaan)

In die ou dae is die plaasvervangersbank uitsluitlik gebruik om beseerde spelers te vervang, deesdae is die bank amper belangriker as die 15 spelers in die opdrafspan.

Dit is die afleiding wat ʼn mens kan maak nadat die Springbokafrigter, Allister Coetzee, sy span aangewys het wat Saterdag in Albany die All Blacks in die toets in die Rugbykampioenskap pak.

Coetzee moes noodgedwonge die beseerde vaskopstut Coenie Oosthuizen, en die flank Jaco Kriel vervang. Ruan Dreyer speel in Oosthuizen se plek en Jan-Luc du Preez skuif in die plek van Kriel in.

Dan keer die slot Franco Mostert, wat teen die Wallabies gerus het, terug in die plek van Pieter-Steph du Toit wat bank toe skuif in Du Preez se plek.

Agterlangs bly die span dieselfde.

Is die span enigsins verswak? Nie eintlik nie, hoewel daar ʼn vakuum op die verdediging en in die stryd om die losbal kan ontstaan.

Dreyer is dalk nie so beweeglik soos Oosthuizen nie, dalk nie ʼn vaardige verdediger nie, maar hy kan die All Black-loskopgroentjie, Kane Hames, laat knor.

Dit lyk mos so al of die rol wat Brendan Venter en Franco Smith (agterlyn) agter die skerms speel al hoe belangriker word.

Die keuse (Dreyer bo Trevor Nyakane) is die regte een; dis ʼn skaakspel waar die All Blacks ʼn skuif gemaak het deur Hames bo Wyatt Crockett in te sluit, en toe ʼn opening gelaat het.

Du Preez het beslis nie dieselfde vaardighede as Kriel nie, maar is dalk vuriger, harder en sal die All Blacks besig hou.

Mostert was voor die toets teen die Wallabies saam met Etzebeth die gereelde slotpaar teen die Franse en Argentynse Pumas. Hy is nooit weggelaat nie, net laat rus.

Dit bring ʼn mens by die bank. Voorlangs twee stutte, ʼn haker en twee slotte wat straks almal in die tweede helfte opgestuur sal word.

Die twee slotte, Lood de Jager en Du Toit (wat as vaskopflank opgestuur sal word) sal die sagmaakwerk moet voortsit. Dit is nou te sê as die Bokke in daardie posisie geplaas word en die vlugvoetige All Black-agterspelers nie reeds amok gesaai het nie.

Kan dié Bokke die All Blacks troef?

Wel, dis die beste span wat gekies is.

Daar word nie meer te veel klem gelê oor hoeveel toets dié en daai gespeel het nie, oor hoeveel keer die agterlyn saam gespeel het of oor hoeveel drieë X en Y gedruk het nie. Dit gaan daaroor of die All Blacks geklop kan word.

Die Springbokspan –

15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronje, 8 Uzair Cassiem, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Siya Kolisi, 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Lodewyk de Jager, 20 Pieter-Steph du Toit, 21 Francois Hougaard, 22 Handré Pollard, 23 Damian de Allende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B-man ·

Mostert maak die leemte wat op verdediging ontstaan het darem so ‘n rapsie kleiner. Hy kan verdedig soos ‘n Monster(t).

CdV ·

Ek sou eerder Combrink & Leyds as vleuls gekies het. Beide kan uit niks iets maak en ons het dit broodnodig teen NZ. Tweedens hoop ek ons contest elke liewe lynstaan en staan nie net daar omdat die reëls dit vereis nie.

Josua Keys ·

CDV, niks vout met Skosaan nie hy kry net nooit die bal nie en ja laasweek was n lang dag vir hom met die Up and Unders maar dit sal nie gou weer gebeur nie dit was sy afdag en sal Saterdag dit regstel as Jessie net kan leer om die lyn reguit te maak en ophou na die vleuls toe hardloop en dan die bal in hul hande wil gee sal hulle nie goed lyk nie, maar stem ek ook saam jou, Combrinch/ Dylan Leyds op regtervleul sy my ook meer gerus gemaak het, Rhule moet net keer en wakker wees, die res van die agterlyn moet nie wag om te verdedig nie maar in hul gesig wees en hulle op die voordeel lyn afsny want dit is die gouste wanneer jy die AllBlacks “rattle” dan het ons n kans. Bly dat Dreyer uiteindelik sy kans teen die manne kry. Go Bokke!!!!

T. van Schalkwyk ·

” … deesdae is die bank amper belangriker as die 15 spelers in die opdrafspan”.

In die goeie ou dae was rugby ‘n sport waar 15 man teen 15 man gespeel het en die skeidsregter sowaar (!) gerespekteer is deur spelers, afrigters en kykers.
Deesdae, ‘n klug waar, afhangend van moontlike geel- en rooikaarte en die ‘impakbank’, enigiets van 13 tot 23 mag meeding per wedstryd. Die aantal kaarte wat uitgedeel mag word, is tot dusver onbekend?

James ·

Ja, dit is seker die beste span wat gekies is, maar vanaf ons nr 8 tot en met nr 15 is maar baie gemiddelde spelers en beslis nie opgewasse teen die All Blacks se agterspelers nie. Hulle gaan ons verniel. Ek is tot dusver glad nie oortuig dat nr 8 daar hoort nie, Dan du Preez sou n beter keuse wees. Nr 10 raak die kluts heeltemaal kwyt onder druk en Pollard moes in die beginspan wees. Ons kort minstens vir Frans Steyn en Combrink in die Bokke se agterlyn. Maar, ek gaan nogtans hard raas en ondersteun soos altyd, net dalk maak ons dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.