Bok-veterane beklink sege vir Franse klub

Jono Ross (Foto: Rugby Week)

Jono Ross (Foto: Rugby Week)

Die Franse klub Toulon het sy sege van 31-17 Saterdag in sy Mayol-stadion in die Franse Top14-liga oor Lyon grootliks aan twee Springbok-veterane te danke gehad.

Lyon het die eerste kwart van die wedstryd die botoon gevoer, en Toulon was kortstondig voor eerdat die besoekers ingehaal het.

Nadat die telling 20 minute lank op 17-17 vasgehaak het, het die 35-jarige Juan Smith in die 49ste minuut `n drie gedruk om Toulon die voortou te laat neem.

Bryan Habana (33) is in die 75ste minuut oor die doelyn om seker te maak dat die wedstryd buite Lyon se bereik geplaas word.

 In nog `n wedstryd in dié liga het Jono Ross (agsteman), `n gewese kaptein van die Bulls en die Blou Bulle, `n drie vir Stade Français teen La Rochelle gedruk, en die Springbok-losskakel Morné Steyn het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag.

La Rochelle het die kragmeting op sy tuisveld in die Marcel Deflandre-stadion 37-18 gewen.

 Die gewese Stormers-slot Gerbrandt Grobler het die doellyn in sy derde agtereenvolgende wedstryd vir Racing 92 oorgesteek in sy span se sege van 33-25 oor Brive in die Yves du Manoir-stadion, Colombes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.