Bok-vrouesenter hou haar lyf brandbestryder

Zinhle Ndawonde lewer daagliks ’n noodsaaklike diens as ’n brandbestryder. Foto: ANA.

Terwyl die meeste mense weens die Covid-19-pandemie in hul huise moet bly, doen die Springbok-vrouespan se sterk senter, Zinhle Ndawonde, diens as ’n brandbestryder by die King Shaka Internasionale Lughawe buite Durban.

Met die toestand van afsondering vir 21 dae wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is, is die lughawe baie stiller as gewoonlik, maar Ndawonde moet altyd op haar hoede wees; ’n noodgeval kan steeds enige oomblik gebeur.

“In hierdie stadium het ons net een vragvliegtuig wat daagliks land, maar ons inspekteer steeds gereeld die geboue,” het sy gesê.

“Dit is ’n groot aanpassing omdat ons nou veiligheidsitems soos maskers en handskoene moet dra, maar dit is lekker om te weet dat ons steeds op ’n gereedheidsgrondslag is indien daar ’n noodgeval opduik. Dit is egter baie vreemd om die lughawe só leeg te sien. Dit is amper asof ’n fliek hier vervaardig word.”

Volgens die vlugvoetige senter is higiëne en ander voorkomingsmaatreëls nou baie belangrik vir haar en haar mede-brandbestryders.

“Ons is ’n hegte eenheid wat permanent in mekaar se geselskap is, juis daarom probeer ons om ten alle tye ’n afstand van een meter te behou sodat ons die virus kan beveg. ʼn Mens kan nie te versigtig in dié tye wees nie en ons fokus op almal se gesondheid.”

Natuurlik is oefening ook moeiliker met al die gimnasiums wat gesluit is, maar Ndawonde is entoesiasties oor die liggaamsgewig-oefeninge wat sy wel kan doen.

“Ons oefeninge is beslis aangepas en ek is baie bevoorreg omdat ek by my werksbasis verder kan hardloop. Ek kan weliswaar nou nie lang afstande hardloop nie, maar hier is meer as genoeg plek om genoeg fiksheidswerk in te kry.

“Dit is steeds baie belangrik dat ons fiksheidsvlakke op standaard bly vir die dag wanneer ons weer mag speel. Die Wêreldbeker-toernooi is immers volgende jaar in Nieu-Seeland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.