Bok-vrouespan bespreek plek vir Wêreldbeker

Die Springbok-vrouespan is op pad na volgende jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi. (Foto: X)

Die Springbok-vrouespan is op pad na volgende jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Engeland nadat hulle die afgelope naweek vir dié toernooi gekwalifiseer het.

Die Suid-Afrikaners het Madagaskar in die Stade Maki-stadion in Antananarivo met 46 – 17 uitoorlê om hul titel as Afrika-kampioen te behou.

Dié oorwinning beteken die span se rekord van seges in dié stadion kom nou op ses te staan.

Die Bokke het in hul eerste kragmeting van die Afrika-beker vir Kameroen met 55 – 0 oorrompel en daarna vir Kenia met 63 – 5 verslaan.

Louis Koen, hoofafrigter van die Bok-vrouespan, is verheug oor die oorwinning en gee alle krediet aan die spelers.

“Dit is moeilik om drie wedstryde in tien dae te speel en lof aan die spelers wat die wedstrydplan goed uitgevoer het. Ons het regtig goed gespeel in die eerste helfte om die grondslag vir die oorwinning te lê,” het die breier gesê.

Die teenstanders het drie keer onder die pale gaan kuier, maar dit was weliswaar nie genoeg om ʼn gedugte Bokspan te stuit nie.

“Ons kan beslis by hierdie toeskouers leer hoe om vrouerugby te ondersteun; die ondersteuners was regtig fantasties.”

Koen sê hul opponente se onkonvensionele benadering kon maklik gewerk het, maar die Bok-vrouespan het by hul spelpatroon gehou.

“Hulle speel regtig ʼn ander styl van rugby, maar ons het hulle in daardie eerste helfte uitgesluit en ʼn behoorlike grondslag vir die oorwinning gelê,” sê Koen, wat net meer as ʼn jaar gelede beheer van die span geneem het.

Hy glo die toekoms van vrouerugby in Suid-Afrika is blink.

“Ons het ʼn groot aantal gereelde spelers wat nie by hierdie toernooi is nie en daar moet erkenning gegee word aan die minder ervare spelers wat hier in Madagaskar gespeel en seker gemaak het ons gaan volgende jaar Engeland toe.

“Om vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi te kwalifiseer is ʼn groot hupstoot vir alle betrokkenes en ek kan net die belanghebbendes, spelers en bestuur bedank wat hierdie reis saam gestap het. Die spel kan van hier af net groei en verbeter.”

Nolusindiso Booi, die Bokkaptein, sê die span draf op die veld uit om meisies of vroue te inspireer om ʼn rugbybal op te tel.

“Ek glo hierdie oorwinning en kwalifisering vir die Wêreldbeker sal soveel beteken vir diegene wat die spel laat help groei.

“Ons is op die groot verhoog en hoort daar, so die volgende stappe is belangrik. Ons het die grondslag gelê vir die volgende fase en dit is opwindend om deel daarvan te wees. Lof aan die spelers, maar net soveel lof moet ook gaan aan die afrigters wat ons so goed hierop voorberei het.”

Die Bok-vrouespan kom Maandag in Suid-Afrika aan waarna die spelers na hul onderskeie provinsies terugkeer vir die vroue se premierliga wat tans aan die gang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael ·

Word die vroue span op meriete of volgens n kwota sisteem gekies gebaseer op velkleur?

Niklaas ·

By die Wereldbeker sal die 55-0 telling (teen Kameroen) nie weer behaal word deur hierdie klompie nie. Daar wag NZ , Ierland , Australië en sulke spanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.