Bokgroep: Nou word daar tóg van oorsee af gekies …

Francois Louw (Foto sarugby.co.za)

ʼn Mens weet nie aldag hoe Allister Coetzee en sy mede-keurder(s) redeneer nie, en ook nie hoe hulle sommer hul eie beginsels en besluite oorboord gooi nie.

Die bekendmaking Woensdag van die nuwe Springbokgroep laat jou egter nóg meer verward.

Francois Louw van Bath is saam met die Sharks se skrumskakel Louis Schreuder en hulle opwindende jong vleuel S’bu Nkosi in die Bokgroep ingesluit. Francois Hougaard is die enigste speler wat ná die rugby-fiasko weggelaat is.

Al drie insluitings is ʼn ongetwyfelde verbetering op verlede week se spelers in hul posisies, maar oor al drie se insluiting is daar kontensieuse vrae.

Francois Louw

Verlede jaar het Francois Louw gesukkel om teen die Iere die pas vol te hou toe hy van oorsee af vir die Junie-toetse laat kom is.

Een van Suid-Afrika beste spelers die afgelope jare was óf moeg na die lang en taai Europese seisoen, óf Suid-Afrika se velde was te “vinnig” vir hom.

Louw het sy reputasie allermins gestand gedoen.

Aan die einde van verlede jaar is daar besluit net manne wat 30 toetse of meer gespeel het, mag voortaan van oorsee af gekies word (behalwe in ʼn Wêreldbekerjaar).

Louw voldoen met sy 52 toetse aan hierdie besluit.

Maar wat het geword van die keurders wat vanjaar benewens Francois Hougaard nie spelers van oorsee af wou kies nie? En as Louw gekies is om leemtes te vul, wat van ʼn paar ander Bokke oorsee met meer as 30 toetse?

Louw, lyk dit, is terug om weer op Nuweland te speel voor die pawiljoen wat na sy oupa Jan Pickard vernoem is.

Louis Schreuder

Jare lank was hy die nommer twee van die Westelike Provinsie en die Stormers onder die einste Allister Coetzee as afrigter.

Hy was al voorheen by ʼn Bokkamp en selfs op ʼn Boktoer waar hy nie gespeel het nie. Is hy nou nader getrek nadat Paige, al oor ʼn paar seisoene heen, en Francois Hougaard, vanjaar, duidelik nie die oplossing op skrumskakel is nie?

Schreuder, met goeie besluitneming en vinnige skoonmaak, het vanjaar onder Deon Davids by die Kings gedy.

Hy is nóg ʼn speler wat sy potensiaal begin verwesenlik het toe hy onder Coetzee se afrigting weg is – soos onder meer Jaco Taute (nou by Munster) en Elton Jantjies (nadat hy teruggekeer het Lions toe).

Gaan Schreuder speelkans kry? Seker nie. Hy moes darem seker al ʼn Bokbaadjie gehad het as Paige een het, maar dié sal seker speel.

Schreuder, wat werklik goed by die Kings was, het egter nie vanjaar vir die SA A-span teen die Franse Barbarians plek gekry nie.

Het sy voortgesette goeie vertonings in die vrotterige Curriebekerreeks sedertdien die skaal in sy guns geswaai? Of is daar destyds met die kies van die A-span misgetas?

Hougaard is weggelaat uit die groep, maar ʼn mens wonder hoekom Schreuder nou eers nader getrek word nadat Jano Vermaak Argentinië toe is na Cronjé se besering? Was Schreuder skielik só skitterend vir die Sharks?

Cronjé, wat na sy besering teen die Wallabies gespeel het, maar verlede week weens ongesteldheid moes onttrek, is saam met Paige en Schreuder die drie skrumskakels.

Sibusiso Nkosi

Hy gaan ʼn baie, baie goeie vleuel word. Op die aanval is hy gif en hy werk hard.

Sal hy vir Rieko Ioane op volle vaart kan keer? Dit sal gesien moet word.

Is Ruan Combrinck met sy veel groter ervaring as Nkosi ná ʼn enkele provinsiale seisoen meer opgewasse? Ongetwyfeld.

Maar word die afseisoen wat die manne in Japan speel, as “oorsese rugby” beskou? Hulle het mos nie hulle heil oorsee gaan soek nie, net hulle salarisse vir vier maande aangevul?

Moontlik word hulle as oorsese spelers beskou, anders is daar nog groter bedenkinge oor Coetzee se redenerings- en kiesvermoë.

Die res van die groep

Raymond Rhule en Courtnall Skosan was duidelik volgens Coetzee-hulle nie swakker as Hougaard nie, want hulle is steeds in die groep. Andries Coetzee klou ook steeds aan sy plek vas.

Miskien het (Allister) Coetzee tog wel “positiewes” gesien soos hy na die toets gesê en nie die heelwat foute wat die res van Suid-Afrika opgetel het nie.

Springbokgroep –

Voorspelers (17)
Uzair Cassiem, Lood de Jager, Ruan Dreyer, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth (kaptein), Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Francois Louw, Wilco Louw, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Franco Mostert, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane, Chiliboy Ralepelle.
Agterspelers (13)
Andries Coetzee, Ross Cronjé, Damian de Allende, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Dillyn Leyds, Rudy Paige, Handré Pollard, Raymond Rhule, Louis Schreuder, Jan Serfontein, Courtnall Skosan, S’busiso Nkosi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

rollie ·

Jaco Kriel is uit vir die seisoen so hulle moes nog ‘n fetcher kry. Kwagga is te lig in die broek.

Anton Wessels ·

Kwagga is vereweg naas Kriel die beter “fetcher”. Met duidelik meer ballsence as die huidig losvoorspelles van die bokkies
Alister Coetzee duik in die stof

Ben ·

Waar is Combrinck,Ruhan Janse Van Rensburg,Vincent Koch? Toetie en Kie gaan volgende Saterdag in Bloemfontein lang trane huil en die Saterdag daarna in die Kaap is dit hopenlik ook sy laaste toets as afrigter.

rollie ·

Combrink en RJVR het drooggemaak laas toe hulle vir die Bokke gespeel het, ek weet nie of hulle juis die span gaan versterk nie. Leyds en Van Wyk sou my vleuels wees met Gelant of Marais op heelagter. Die probleem is dat daar heelwat redelike goeie binnesenters is maar omtrent geen kwaliteit buitesenters nie. Op skrumskakel sou ek Reinach gekies het maar sy aangee is ook maar swak.

Peanut ·

Ek wonder so oor die swak vertoning vd bokke, is daar nie maar weer sport bedrog betrokke met mense wat sekere spelers omkoop om swak te speel nie. As dit in krieket gebeur wat is anders in rugby ek kan nie dink dat ons kwaliteit van spelers en afrigting so verswak het nie, iewers is hier weer een of ander vorm v bedrog aan die gang. Ek het om die rede ophou krieket kyk na die Hansie skandaal ek het absoluut geleef vir krieket en kyk dit glad nie meer nie, selfde gebeur nou met rugby ook

Peanut ·

Ek wil net duidelik stel dat Hansie nie swak gespeel het nie maar dat hy wel inligting verskaf het, Hansie bly nog n legende maar daar was na hom mense wat nog meer en groter bedrog gepleeg het.

Johan ·

As mens sien hoe die bok breier nou desperaat spelers nader hark om sy kastaiings uit die vuur te probeer krap kom die vraag by my op – “Wil ‘n top speler werklik sy naam en reputasie aan die misbaksel knoop?”

Lucas ·

Johan. Jy kon dit nie beter gestel het nie want sowaar is die spul nie die moeite werd om mee saam te wil speel nie !!

Ben Spreeth ·

Allister het vir jare die verhouding van 9/6 by die WP volgehou. Met dit in gedagte is hy baie beperk wat die beste spelers betref. Kyk sy kiesverhouding die afgelope toetse. Dis immers waarom hy aangewys is. Toe die Stormers voorlaasjaar op Nuweland sleg verloor het in n Super 15 wedstryd, was sy kommentaar dat ons darem iets reg gedoen het en dit is dat daar tien spelers van kleur op die veld was. Maak maar jou eie afleiding.

leon ·

Ek het n afrigter geken wat gese het as jy kwotaspelers moet gebruik dan kies jy hulle op vleuel dit is wat AC doen met die 2 huidige vleuels doen want hulle is nie die beste nie

Pietman ·

Die rondval met spelerskeuses wys mos die afrigter weet nie waarheen nie. Hougaard was nog goed genoeg in die begin van die jaar . Hoe nou? Elk geval die groot probleem lê nie by spankeuse nie maar oor die basiese rugby beginsels wat nie nagevolg word nie. Speel vorentoe op aanval en verdediging en dit sal 90% van die probleme oplos.

Henk ·

En steeds word Combrink en de Klerk en van Rensburg van die Leeus geignoreer!?

Callie ·

Verstaan niemand die kwota stelsel nie.met AC daar sal daar ook nie toegewings gemaak word nie. Hoor nou,as Louw speel sal dit in Du Preez se plek wees. Cassiem sal weer niks doen vir 80 min. Sonder paige moet iemand anders opgeoffer word. Wie gaan dit wees. Dit is n siek spul. Ergste is mense begin die standaarde aanvaar. Daar is n paar spelers wat nie op toetsvlak hoort nie. Saterdag gaan Australie wen en Saterdag daar op gaan AB Weer met meer as 20 wen.

Rugby kenner ·

Vreemdste artikkel ooit. Ek dink alle reëls en regulasies is by die bus uit wanee4 n span 57-0 verloor. Enige reëls oor spelers oorsee geld nie nou nie meneer. Daar word nou enige iets gedoen om te wen. Schreuder gaan beslis van die bank af speel. Hoor my lied.

dries ·

Wat ek nie verstaan, n ander land se speler pas aan by daardie span ,word gewoond aan daardie toestande en afrigter. Nou kom hy te doen met ander toestande maar dit word van hom verwag om ons land te laat wen.

Chocolate vis ·

Louw is in dieselfde klas as De Allende.
n Swak coach word erg ge-intimideer deur spelers wat weet as hy wind praat, dan kies hy eerder die wat hy lank mee gewerk het en die wind sluk.
Ek weet kleur op die stadium kelder ons maar hoekom Louw as Du Preez daar is?
Was Casiem op die veld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.