Bokheld oor sy Bafokeng-skop, afrigtersloopbaan en meubelwinkel

Andre Pretorius op die aanval. Foto: Facebook.

Dit is September 2006 en die All Blacks lyk (soos altyd) onstuitbaar. Hulle het 15 wedstryde agtereenvolgens gewen en hul pad om die Wêreldbeker die volgende jaar in Frankryk te wen, lyk seepglad.

Daarteenoor is John Smit se Springbokke effens lendelam. Hulle het ’n paar wedstryde in ’n ry verloor en die onweerswolke is besig om onheilspellend om Jake White saam te pak op die vooraand van die Bokke se volgende Kiwi-kragmeting op die Royal Bafokeng‑stadion.

Hoewel die beleërde Bokke soos tiere in Rustenburg teruggeveg het, het die Kiwi’s net weer gewys dat hulle enige wedstryd kan wen, maak nie saak hóé begeester hul teenstanders is nie.

Met ’n paar minute se speeltyd oor, het die besoekers ’n klein voorsprong van 20 – 18 geniet. Maar Rodney So’oialo het in die 79ste minuut ’n breinfloute gehad en ’n strafskop afgestaan.

Smit het nie geskroom om die bal vir sy losskakel, André Pretorius, te gee nie. Die Bokkaptein het ná die tyd gesê hy het kliphard gebid terwyl Pretorius pale toe aangelê het.

Duidelik het Smit (en waarskynlik elke Bok-ondersteuner) se gebede help, want ná sy kenmerkende skalkse kykie na die pale, het Pretorius die bal suiwer oor die dwarslat gejaag om die wedstryd 21 – 20 vir die Bokke te wen.

Die volgende jaar het Smit die William Webb Ellis-trofee in Parys omhoog gehou…

“Saam met my debuut teen Wallis in 2002, was die Bafokeng-toets een van my gunstelinge in die Springboktrui,” het Pretorius aan Maroela Media gesê.

“Ek het so na die pale geloer om die bal eweredig met die pale te kry. Ek het na die onderste deel van die pale gekyk,” verduidelik hy sy eiesoortige skoptegniek.

Die 40-jarige Pretorius was op sy dag een van die talentvolste, maar ook een van die mees beseringsgeteisterde, losskakels in die land.

Hy het saam met White-hulle die Wêreldbeker gewen, terwyl hy uiteindelik 171 punte in die Groen-en-Goud aangeteken het.

Pretorius rig deesdae by die Noordwes-Universiteit af en besig sy eie meubelwinkel. Foto: Facebook.

“Ek sou graag die kennis wat ek later opgedoen het, vroeër in my loopbaan wou gebruik het. Baie van my beserings was as gevolg van onkunde wat gemeng is met ’n dalk té goeie werksetiek. Dit het gesorg dat daar baie oorgeoefende spierbeserings was.”

Pretorius het gedurende die seisoen tot drie ure op ’n slag aan sy stelskopwerk geskaaf en hy rig deesdae voltyds by die Noordwes-Universiteit af, terwyl hy sy eie afrigtingskonsultasiebesigheid, Iskills, bedryf. O ja, hy besit ook ’n meubelwinkel in Potchefstroom!

“Ek mis my speeldae ontsettend baie, maar die afrigting help darem. Maar wanneer ek een keer saam met die spelers hardloop, besef ek dat ek nou sal sukkel as ek weer my rugbystewels sou aantrek: Die longe brand lekker vinnig!”

Hy het vir die eerste 10 jaar van sy loopbaan (1999 – 2009) vir die Leeus gespeel, maar het later vir ’n paar Franse klubs – Toulon en Carcassonne – uitgedraf.

“Wanneer ek na my loopbaan terugkyk, voel ek gereeld dat ek dalk vroeër die oorsese roete moes gekies het. Nie vir die geld nie, maar vir die ervaring, sowel as die reisgeleenthede.”

Die Bokke skop hul Wêreldbeker-veldtog later vanjaar af en Pretorius glo die span staan ’n kans om goed te doen.

“Die Bokke het altyd ’n kans en met Rassie daar sal hulle bietjie dinge op ’n onortodokse wyse aanpak.”

Wie is tans die beste losskakel in Suid-Afrika?

“Handré Pollard,” is sy vinnige antwoord.

André Pretorius is ’n Bokheld wat ’n belangrike toets vir sy land gewen het. En indien die beseringspook langer weggebly het, het hy oor die talent beskik om baie meer toetse vir die Springbokke te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.