Bokke, All Blacks moet met skoon lei begin

Romain Poite. (Foto: Twitter)

Elke rugbyspan se moed sak in sy skoene wanneer ’n sekere skeidsregter vir ʼn komende toets aangewys word.

Saterdag in Port Elizabeth is die Fransman Romain Poite in beheer van die eerste Rugbykampioenskaptoets tussen die Bokke en die Argentynse Poemas.

Hy het die Bokke al baie grys hare gegee, só ook vir die All Blacks toe hy ʼn strafskop in die onlangse derde toets teen die Britse en Ierse Leeus omgekeer het, en die derde en beslissende toets gelykop geëindig het.

Poite wil in beheer wees, hy is die 31ste speler op die veld, en nie soos die Franse sê, die arbitré op die veld nie.

Maar gelukkig het die Poemas ook al erg onder hom deurgeloop.

Wie sal ooit vergeet hoe Poite die Bokke in 2013 geboor het toe hy Bismarck du Plessis in die toets teen die All Blacks afgestuur het nadat hy (Du Plessis) eers vir Dan Carter onder die stof geloop het, en later ʼn tweede geel kaart gekry het toe hy Liam Messam met die elmboog (Du Plessis het die bal gehad) gestamp het?

Du Plessis was geen engeltjie nie, maar dié dag het net die tweede oortreding dalk ʼn strafskop geregverdig.

Saterdag in Sydney sou nog ʼn Fransman, Jérôme Garcès, die Bledisloetoets teen die Wallabies en All Blacks hanteer het.

Garcès, wat die All Black-senter Sonny Bill Williams in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus (heeltemal in die kol) afgestuur het, het verlede Saterdag ʼn kuitspierbesering opgedoen in ʼn oefenwedstryd tussen Bayonne en Racing 92, en moes hom toe onttrek.

En wie blaas in sy plek? Wayne Barnes van Engeland, een van die All Blacks se grootste “vyande”.

Die All Blacks kry nou nog nagmerries oor 2007, toe die Franse hulle in die Wêreldbeketoernooi uitgeskakel het.

Dis maklik om ná die tyd te praat en klippe te gooi, maar die Hane is bitter min gestraf, en die All Blacks (wat in die tweede helte in beheer was) baie.

Kan die All Blacks en Bokke dit vergeet, en met ʼn skoon lei begin?

Indien nie, word daar weer lang trane gehuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JG ·

My beskeie mening…afgesien van die feit dat NIEMAND die Franse skeidsregters verstaan as hulle praat op die veld nie…is hulle totaal onbevoeg om n fluitjie te hanteer en behoort nie eers in skole wedstyde te blaas nie…

Nico ·

Wanneer gaan daar opgehou word om elke keer oor dieselfde rooi kaart aan Bismarck. Hy het elke kaart wat aan hom uitgedeel is verdien en moes meer kry.

Nico K ·

Ek stem saam oor Bismarck. Ek dink ook die rooi kaart was geregverdig. Maar wat my baie meer pla is die klagte oor die Franse skeidsregter wat niemand kan verstaan nie. Rugby is die enigste sport waar ‘n skeidsregter vir die spelers moet waarsku dat hulle die reël gaan oortree. Dit klink partykeer soos ‘n afrigtingsessie. ‘n Speler moet mos self weet wat hy mag doen. (Anders is daar groot fout met rugbyreëls. Wat ook ‘n waarskynlikheid is. ) Volgens my moet ‘n skeidsregter net op sy fluitjie blaas en daar is tekens om die tipe straf aan te dui. Die gepratery deur die skeidsregter behoort nie plaas te vind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.