Bokke begin seisoen teen Wallis op Twickenham

Rassie Erasmus (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Die Springbokke sal vir die eerste keer na die veld terugkeer sedert verlede jaar se Wêreldbekereindstryd wanneer hulle Wallis op 22 Junie in die ikoniese Twickenham-stadion in Londen pak.

Die laaste keer dat die Springbokke se paaie met Wallis gekruis het, was in ʼn Wêreldbeker-opwarmrugbywedstryd in Cardiff in Augustus verlede jaar, toe hulle ʼn rekordoorwinning van 52-16 behaal het.

Die wedstryd sal dien as die ideale voorbereiding vir die Springbokke se twee toetse teen Ierland in Julie. Die wedstryde vind op 6 Julie in Pretoria en 13 Julie in Durban plaas. ʼn Week later sal hulle teen Portugal in Bloemfontein te staan kom.

Springbok-afrigter Rassie Erasmus meen die wedstryd teen Wallis is die perfekte afskop vir ʼn opwindende 2024-seisoen.

“Ons is verheug om terug te keer na Twickenham in wat ons eerste toets sedert die Wêreldbeker-eindstryd sal wees,” het Erasmus gesê.

“Om teen Wallis te speel, wat ons al voorheen daar teëgekom het in ʼn opwindende 2015-Wêreldbeker-kwarteindstryd, sal ook baie ander herinneringe terugbring.

(Foto: GB Jordaan)

“Ons speel dalk in die buiteland, maar ons geniet fantastiese ondersteuning van die ekspat-gemeenskap in Londen en sy omgewing, soos ons verlede jaar gesien het waar die meeste van die ondersteuners groen-en-goud aangetrek het, so ons sien baie uit na die wedstryd.”

Die Sesnasiesreeks is volgens Erasmus ʼn uiters mededingende reeks, baie soos die Castle Lager-rugbykampioenskap, en daar is die afgelope paar jaar gesien watter krag Wallis kan wees.

“Die meeste van die wedstryde tussen die spanne sedert 2008 is met minder as 10 punte beslis en sommige van dié met minder as vyf punte. Hulle het ook min verloor teen Skotland en Engeland in hul eerste Sesnasieswedstryde, so hulle sal alles in die stryd werp.”

Erasmus het gesê hy is tevrede met sy nuwe Bok-afrigtingspan se voorbereiding agter die skerms en dat hulle gretig is om aan die gang te kom.

“Almal was hard besig om die opposisie vir die internasionale seisoen te ontleed sedert ons die nuwe afrigtingspan gefinaliseer het en ons kan nie wag om die seisoen te begin nie.

“Ons het vier maande om ons strukture en stelsels in plek te kry en ons sal geen steen onaangeroer laat terwyl ons hierdie nuwe reis aanpak om op te bou na die 2027-Wêreldbeker in Australië nie.”

Springbokke se wedstrydbepalings:

Saterdag, 22 Junie: SA vs Wallis (Twickenham, Londen)

Saterdag, 6 Julie: SA vs Ierland (Loftus Versfeld, Pretoria)

Saterdag, 13 Julie: SA vs Ierland (Kingspark, Durban)

Saterdag, 20 Julie: SA vs Portugal (Toyota-stadion, Bloemfontein)

Saterdag, 10 Augustus: Australië vs SA (Suncorp-stadion, Brisbane)

Saterdag, 17 Augustus: Australië vs SA (Optus-stadion, Perth)

Saterdag, 31 Augustus: SA vs Nieu-Seeland (Emirates Airline Park, Johannesburg)

Saterdag, 7 September: SA vs Nieu-Seeland (DHL-stadion, Kaapstad)

Saterdag, 21 September: Argentinië vs SA (venue moet nog bevestig word)

Saterdag, 28 September: SA vs Argentinië (Mbombela-stadion, Nelspruit)

16/17 November: Engeland vs SA (Twickenham, Londen – datum moet nog bevestig word)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Dit is ‘n opwindende jaar wat voorlê,gelukkig het die bokke in Erasmus ‘n geniale afrigter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.