Bokke Bismarck en Ruan kon span nie wéér red

Bismarck du Plessis en Ruan Pienaar. (Foto: Montpellier Rugby)

ʼn Week gelede het die Springbokke Bismarck du Plessis en Ruan Pienaar Montpellier in die Franse Top14-liga help wen, maar dié keer kon hul goeie bydrae nie weer daarin slaag nie.

Du Plessis het ʼn drie gedruk (verlede week twee) en Pienaar het tien punte, twee doelskoppe en twee strafdoele, met die skoen behaal, maar Stade Franҫais het die kragmeting met 31-20 gewen.

Nóg ʼn Bok, die slot Juandré Kruger, het ʼn drie vir Toulon teen Bordeaux Bègles gedruk. Laasgenoemde het met 30-27 gewen.

In die Franse Pro D2-liga het Pellow van der Westhuizen, ʼn gewese haker van SA o.21, die Luiperds en later die Pumas, Montauban se eerste drie in sy sege van 18-17 oor Carcasonne gedruk

In die Fédérale 1-liga het die plaasvervanger-losskakel, Lee Adriaanse, Chambery se sege van 22-21 oor Provence in die 71ste minuut met ʼn strafdoel beklink.

Hy het die Westelike Provinsie by die o.18-akademieweek verteenwoordig.

JP Botha, ʼn gewese WP-o.21-stut, wat vir Graulhet speel, het ʼn geel kaart in sy span se wedstryd teen Bergerac op die lyf geloop.

Bergerac het met 9-3 gewen.

Engeland

In die Engelse Premierliga het Sale se Jono Ross, ʼn gewese Bulls-kaptein, ʼn drie gedruk; en die klub se Springbok Faf de Klerk het met twee doelskoppe geslaag in sy nederlaag van 26-42 teen Harlequins.

Quins se Tim Swiel, ʼn gewese Sharks-Superrugbyspeler, is met ʼn geel kaart van die veld gestuur.

Dean Hammond, ʼn gewese SA o.20-vleuel, het ʼn drie vir Worcester teen Bath gedruk.

Bath het die kragmeting met 29-13 gewen.

In die Engelse Kampioenskap het Brendan Cope, wat vir die Sharks se o.21-span gespeel het, ʼn strafdoel in sy span se nederlaag van 8-31 teen Ealing Trailfinders behaal.

Pro14-reeks

Die losvoorspeler Johan Meyer, wat Vodacombekerrugby vir die Sharks gespeel het, het in die Pro14-reeks ʼn drie vir die Italiaanse klub Zebre teen die Skotse superklub Edinburgh gedruk.

Die Skotte het met 16-15 gewen.

In die wedstryd tussen die Ierse provinsies Ulster en Connacht het die Bok Jean Deysel ʼn geel kaart op die lyf geloop.
Sy span, Ulster, het darem met 16-8 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.