Derde opeenvolgende All Blacktoets vir Ellispark

Ellispark

Ellispark

Die Springbokke sal in 2015 vir die derde agtereenvolgende jaar op Ellispark teen die All Blacks speel, waarna die jaarlikse tuistoets teen die Kiwi’s aan ander stede toegeken sal word.

Ellispark is vernoem na mnr. JD Ellis van die Johannesburgse Stadsraad wat `n sleutelrol in die onderhandelinge met die Transvaalse Rugbyvoetbalunie oor die verkryging van die grond gespeel het.

Die veld, wat vandag net minder as 64 000 toeskouers huisves,  is in 1928 voltooi en is sedertdien die tuiste van Transvaalse rugby. Die eerste toets was teen 1928 se All Blacks. Die toets teen 1955 se Britse Leeus het `n Suid-Afrikaanse rekordskare van nagenoeg 95 000 gelok.

Die veld het tussen 2008-’12 amptelik as Coca-Colapark bekend gestaan en sal aanstaande jaar Emirates Airlinespark heet as deel van die borgskap van die lugdiens.

Jurie Roux, hoofbeampte van Saru, het met die aankondiging van die toekenning van die toets aan Ellispark ook bekend gemaak dat die All Blacktoets in die toekoms sal roteer.

Die Springbokke speel aanstaande jaar net een ander tuistoets, teen Argentinië in Durban, nadat die Rugbykampioenskap met die oog op die Wêreldbeker tot drie toetse per span verkort is.

Die Bokke sal ook einde Augustus in hul laaste wedstryd voor die wêreldtoernooi op Nuweland teen `n Wêreldspan speel. (Durban sou aanvanklik die tuistoets teen die Wallabies gehuisves het, maar dit is van die kalender geskrap.)

Springbok-toetse in 2015
18 Julie – teen Australië, Brisbane
25 Julie – teen Nieu-Seeland, Johannesburg
8 Augustus – teen Argentinië, Durban
15 Augustus – teen Argentinië (plek moet nog bepaal word)

Ander internasionale wedstryd
22 of 29 Augustus – teen Wêreld XV, Kaapstad

Wêreldbeker
19 September – teen Japan, Brighton
26 September – teen Samoa, Birmingham
3 Oktober – teen Skotland, Newcastle
7 Oktober – teen die VSA, Londen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.