Bokke is bo, maar hef aan lê voor

Jean de Villiers se Bokspan sal getoets word in Australasie. Foto: GB Jordaan/maroelamedia

Jean de Villiers se Bokspan sal getoets word in Australasie. Foto: GB Jordaan/maroelamedia

Dit is geen verrassing dat die Springbokke en All Blacks ná die eerste twee rondtes van die Rugbykampioenskap met nege punte elk gesamentlik boaan die puntelys is nie.

Hulle het elkeen teen spanne uitgedraf wat mindere opposisie vir die twee van hulle is. Hulle is ongetwyfeld die twee beste rugbyspanne ter wêreld in absolute sowel as relatiewe terme. Die pas afgelope naweek se wedstryde het egter gewys hulle is nie sonder foute en krake nie en vir veral die Springbokke lê hef aan nog voor, want hulle vertrek eerskomende Saterdag na Australasië vir twee toetse teen die onderskeidelik Wallabies in Brisbane en die All Blacks in Auckland.

Ofskoon daar heelwat kritiek op die Bokke se spel in verlede Saterdag se tweede toets in Mendoza teen Argentinië uitgespreek kan word, is als beslis nie verlore nie. Hulle het darem op slot van sake ’n naelskraapse en laat oorwinning behaal oor ’n span teen wie hulle in verlede jaar se stryd in dieselfde stadion gelykop gespeel het. Die Poemas was klaarblyklik omgekrap oor die 73-13 skrobbering wat hulle die vorige naweek in Soweto aan die hande van die Bokke (en by uitstek die voete van Morné Steyn) ontvang het. Hulle het soos titane verdedig, die Bokke by die afbreekpunte frustreer (hoewel Steve Walsh bygedra het tot dié frustrasie), aanskoulike hardlooprugby gelewer en ook ‘n tikkie geluk gehad met hul eerste drie vroeg in die wedstryd.

Die Poemas het hul beste rugby in ’n lang tyd opgelewer en hul harte uitgespeel terwyl die Bokke, met straks die uitsondering van die Junie-toets teen Skotland, hul swakste wedstryd van 2013 gespeel het. Dit was ’n geval van ’n gewoonlik uitstekende span wat ’n swak dag op kantoor gehad het teen ’n middelmatige dog opkomende span wat bo hul vermoëns op hul tuisveld presteer het. Ek wil daarom die doemprofete solank stilmaak. Hierdie vertoning moet allermins as ’n permanente verswakking in die Bokke se spel of ’n langtermyn tendens in die verskuiwing van die rugby-magsbalans in die Suidelike Halfrond beskou word. Die Bokke is onteenseglik op ’n opwaartse kurwe hoewel als beslis nie volmaak is nie.

Die Wallabies sal egter volgende week Saterdag hul eie opwaartse kurwe wil begin en die Bokke s’n minder skerp laat styg in die proses. Om eerlik te wees, het die Aussies wel ’n hele boel voordele in hul guns. Hulle het ’n splinternuwe breier in Ewen McKenzie en met die spelskepper Quade Cooper terug in die span, gaan hul kenmerkende flair van nou af herleef. Die Reds, wat tot onlangs nog deur McKenzie afgerig is, se voorliefde vir aanvallende spel en 2011 se Superrugbytitel is genoeg getuienis hiervan.

Die ander voordeel waaroor hierdie weliswaar nat-agter-die-ore span beskik, is die honger om te wen. Twee deeglike nederlae teen die All Blacks en ’n reeksnederlaag teen die Britse en Ierse Leeus is bepaald nog vlak in hul geheues en hierdie gekwestheid kan in briljante desperaatheid omgeskakel word teen die Bokke.

Die Wallabies sal ook krag en selfvertroue put uit hul verbeterde vertoning teen die All Blacks in die laaste toets. Hulle het die Nieu-Seelanders tot twee drieë beperk en darem self ook een gedruk.

Laastens is die geskiedenis ook aan hul kant. Sonder om bygelowig te wees, staan dit buite twyfel dat die Bokke hierdie wedstryd met ’n sielkundige agterstand benader aangesien hulle nog nooit in Brisbane kon wen nie. Hulle het reeds 9 uit 9 sedert 1992 daar verloor en die 0-49 nederlaag in 2006 sal hard by hulle spook.

Maar swak rekords is gemaak om gebreek te word en hierdie Bokspan sal stellig beter voorbereid vir die Aussies se aanslag wees. Die skokuitwerking van ’n amperse nederlaag teen ’n span wat nie in dieselfde liga as die Bokke is nie, moet nie onderskat word nie en is straks ’n bedekte seën.

Eerstens sal die Bokke waak teen die tamheid en traagheid wat hul wedstryd teen die Poemas gekenmerk het deur vroeër na Brisbane te vertrek en sodoende die vlugflouheid so bes moontlik teë te werk. Hulle sal eweneens nie hul opposisie onderskat nie, want die Aussies is kwalitatief heelwat beter as die Poemas.

Wat hulle ook sal wil regstel in hierdie twee weke is hul isolasie by die afbreekpunte en swakkerige verdediging. Hierdie aspekte het hulle duur te staan gekom teen die Poemas en die Aussie-flank Michael Hooper sal intens baljaar as hulle nie by die losgemaal op hul hoede is nie. Die Poemas se twee drieë in die laaste toets was juis die regstreekse gevolg van volgehoue aanvalsdruk wat weens swak verdediging ruimte gegun is om in punte omskep te word.

Die Bokke se skrum het egter in albei toetse teen die Poemas goed gevaar, terwyl die Wallabies se voorry harde bene teen die gesoute All Blacks gekou het. Die Bokke sal natuurlik hul berugte dryfmaalbeweging teen die minder fisieke Wallabies inspan en dit sal interessant wees om te sien of die Wallabies ’n doeltreffende teenbeweging daarvoor sal kan ontwikkel. Ruan Pienaar as die waarskynlike skrumskakel in die Brisbane-toets sal ook ’n baie flinker diens moet lewer agter die vaste skrums sowel as die losgemale as in die laaste toets teen die Poemas.

Die Bokke sal ook heelwat beter taktiese skopwerk en besluitneming aan die dag moet lê. Kritieke balbesit is tydens belangrike periodes in die Mendoza-toets goedsmoeds oor die doellyn weggesool of regstreeks oor die kantlyn geskop. Dit was waarskynlik bloot die senuwees wat geknaag het in ’n toets waarin die uitslag 70 minute lank in die weegskaal was, maar Heyneke Meyer en sy afrigters sal ongetwyfeld hierdie aspek van die spel fyn skaaf oor die volgende 10 dae.

Indien nie, gaan die Aussie-blitse soos Adam Ashley-Cooper, Israel Folau en James O’Connor ongenaakbaar wees danksy hope balbesit en ruimte. Die einste O’Connor is egter ’n duidelike swakplek in die Aussies se mondering en moet nog gewoond raak aan die vleuelposisie in internasionale rugby. Verwag dus dat Steyn hom gaan peper met hoë balle en dat JJ Engelbrecht en Bjorn Basson hom knaend met hul flinkvoetige aanvalle sal teiken. Als in ag genome, kan die Bokke se ondersteuners verseker wees dat hulle nie die spel te los sal maak nie, maar eerder die bal sal hou, vertraag en omkeer en gevolglik ook strafskoppe afdwing.

Die enigste twee veranderinge aan die Bokspan sover is Zane Kirchner en Chilliboy Ralepelle. Ses Bokke, waaronder Juandré Kruger en Bryana Habana, moet egter eers die eerskomende naweek hul klubverpligtinge in Frankryk nakom voordat hulle volgende naweek teen die Wallabies uitdraf. Daar kan net gehoop word dat hulle uitgerus en met minimale vlugflouheid op die veld sal draf in Brisbane.

As ek ’n voorspelling moet waag, gaan ek bloot sê dat my hart na die Bokke neig, maar my rugbybrein in die Wallabies se rigting. Dit gaan ’n styl berg wees, maar die Bokke kan vriend en vyand verras met ’n sege Doer Onder. ‘n Feit staan egter vas: Daar is net een pad vir beide hierdie spanne ná laas naweek se vertonings, en dis boontoe. Die vraag is dus slegs watter span vinniger gaan aanpas en verbeter voor 7 September.

 

Puntelys:

 

Span        Gespeel            Gewen       Verloor          Punte
Suid-Afrika               2               2             0             9
Nieu-Seeland               2               2             0             9
Argentinië               2               0             2             1
Australië               2               0             2             0

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae