Bokke druk drie keer in Engelse halfeindstryd

Willie le Roux – twee drieë. (Foto: GB Jordaan)

Twee Springbokke het Saterdag saam drie drieë in die halfeindronde van die Engelse Premierliga gedruk.

Willie le Roux (heelagter) het twee keer vir Wasps, en Vincent Koch (stut) ʼn slag vir Saracens agter die doellyn gaan kuier.

Nóg ʼn Bok, Juan de Jong (senter), het die grondslag vir Le Roux se eerste drie gelê.
Sarries het die kragmeting met 57-3 gewen, en kom in die eindstryd teen die verdedigende kampioen, Exeter, te staan.

Laasgenoemde het sy halfeindstryd teen Newcastle met 36-5 gewen.

Don Armand (flank), ʼn gewese losvoorspeler van die Stormers, het ʼn drie vir Exeter gedruk, en só goed vertoon dat The Guardian (Manchester) Eddie Jones kritiseer omdat Armand uit die Engelse toerspan na Suid-Afrika weggelaat is.

Wasps se Jack Willis (agsteman) is in die botsing beseer, en dis onseker of hy bogenoemde toer sal kan meemaak.

Armand en die Bokskrumskakel Faf de Klerk (Sale) is deur Newcastle se Fidjiaanse vleuel Vereniki Goneva om die toekenning as die reeks se waardevolste speler geklop.

Franse Top14-liga

Rory Kockott, ʼn gewese Superrugbyspeler van die Lions en die Sharks, het twee strafdoele vir Castres behaal in sy sege van 23-11 in ʼn uitspeelstryd teen Toulouse met die oog op die halfeindronde.

Castres se Jody Jenneker, nog ʼn gewese Superrugbyspeler van die Sharks, is in die 60ste minuut met ʼn rooi kaart gestraf.
Lyon het die ander uitspeelstryd teen Toulon dramaties gewen deur twee drieë teen een te druk.

Die telling was gelykop met 16-16 toe die 80 minute om was, en ná bykomende tyd steeds gelykop met 19-19.

Castres speel nou in die een halfeindstryd teen Racing 92, en Lyon in die ander teen Montpellier.

Italiaanse Super 10-liga

Petrarca van Padua is die nuwe Italiaanse klubkampioen nadat hy die verdedigende kampioen, Calvisano, met 19-11 in die eindstryd geklop het.

Dit is die 13de keer dat hy die nasionale titel wen.

Roemeense Superliga

Die verdedigende kampioen, Timoşoara Saracens, en Baia Mare sal sake in die eindstryd van die Roemeense Superliga uitspook.
Saracens het CSM Bucuresti Saterdag in die halfeindstryd met 26-13 geklop; Baie Mare het met 20-19 met CSA Bucuresti afgereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.