Bokke druk sover meeste drieë in reeks

Die Springbokke het tot op hede die meeste drieë in die Rugbykampioenskap gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke staan op die rand om as wenners van die Rugbykampioenskap gekroon te word, mits hulle natuurlik met Argentinië in Salta afreken.

Rassie Erasmus se span is tans eerste op die punteleer (sewe punte), hulle het die meeste punte in die reeks (51) aangeteken en die tweede minste punte (33) afgestaan.

Glad nie sleg vir ’n span wat met die wêreld se voorste aanvallende rugbyspan – die All Blacks – moet meeding nie.

Statisties gesproke is daar egter ’n paar fasette van die spel wat vir Erasmus so effens rede tot kommer moet gee. Dit sal nou waarskynlik nie vir slapelose nagte sorg nie, maar eerder vir daardie sooibrandgevoel wanneer jy een te veel vetkoek geëet het: ’n effense ongemak.

  • Die Springbokke het die meeste drieë (ses) tot op hede in die reeks gedruk. Daarteenoor kon die All Blacks, wat die afgelope naweek die eerste span in rugbygeskiedenis geword het om 16 000 toetspunte aan te teken – nog net drie drieë in hul twee wedstryde druk.
  • Argentinië het nog die meeste kere die bal gedra. Die Suid-Amerikaners het dit 278 keer in hul twee wedstryde gedoen, gevolg deur Nieu-Seeland (267) en Australië (244). Suid-Afrika is in die laaste plek met 204.
  • Die Kiwi’s het die bal die verste gedra. Hulle het al 844 m gevorder, terwyl Argentinië (819 m) en Australië (741 m) in die tweede en derde plekke is. Suid-Afrika het nog net die bal vir 528 m gedra.
  • Die All Blacks het reeds 46 verdedigers geklop, terwyl die Bokke – weer eens in die laaste plek – net verby 26 verdedigers kon glip.
  • Jesse Kriel het die meeste suksesvolle duikslae vir die span uitgevoer. Foto: GB Jordaan.

    Op die verdedigingsfront was Suid-Afrika suksesvol met 83,1% van hul têkkels, terwyl Jesse Kriel (21) die meeste suksesvolle duikslae vir die span uitgevoer het. Daarteenoor was die All Blacks in die kol met 92,1% van hul duikslae, terwyl Australië se Michael Hooper suksesvol met 27 van sy têkkels was.

  • Die All Black-duo van Beauden Barrett en Ben Smith het tot dusver die meeste verdedigers (13) geklop. Nie een Suid-Afrikaner is onder die top-10 nie.
  • Die blitsbuks, Herschel Jantjies, het sover die meeste drieë in die reeks. Hy het drie keer agter sy teenstanders se doellyn gaan kuier. Die res van die spelers in die toernooi kon elk nog net een drie druk.
  • Puntegewys is Barrett en Herschel Jantjies (15) voor in die koor. Handré Pollard het 11 punte aangeteken, terwyl Elton Jantjies al 10 punte bygedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.