Bokke en Amerikaanse toets in 1981, voor 30 toeskouers

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Draai die horlosie terug na Vrydag 25 September 1981 in New York, toe die Springbokke op die Owl Creek-poloveld in Glenville ʼn toetswedstryd teen die Amerikaanse Eagles gespeel het.

Daar was net 30 toeskouers en beamptes – die minste nog vir enige toetswedstryd; nie eens die volle Springbok-toerspan het van die afskop geweet nie en ook nie die media nie.

Die Bokke het met 38 – 7 gewen, Ray Mordt het nog drieë gedruk (ʼn drie het toe 4 punte getel), Gerrie Germishuys twee en Burger Geldenhuys, Colin Beck en Thys Burger een elk. Naas Botha het met drie doelskoppe geslaag.

Burger, wat een van die plaasvervangers was, moes vooraf help om die rugbypale in te plant en perdemis op te tel.

Die omstrede en bisarre toer na die VSA het plaasgevind net ná die Bokke se toer in 1981 na Nieu-Seeland, toe hulle op pad huis toe was.

Dit sou drie wedstryde ingesluit het, in Chicago, New York en Albany.

Wonderbaarlik het al drie wedstryde plaasgevind, maar nie voor ʼn hele paar draaie in die hof nie, lelike betogings en onder meer ʼn pypbom wat voor die kantoor van die Eastern-rugbyunie ontplof het.

Die Bokke het die eerste wedstryd, teen die Midwest-rugbyunie, met 46 – 12 gewen.

Die Bokke het dié Saterdagoggend, volgens die argief van die ou Vaderland en Wynand Claasen se boek More than just Rugby, douvoordag per bus na Racine, Wisconsin, gereis, wat sowat 130 kilometer van Chicago geleë is.

Die wedstryd was vir 12:00 beplan, maar het reeds om 09:00 afgeskop. Daar was net een betoger wat die wedstryd probeer ontwrig het, maar net nadat die eindfluitjie geblaas het, het verskeie busvragte vol betogers met plakkate onder leiding van ʼn briesende eerwaarde Jesse Jackson by die veld aangekom.

Die Bokke het hul tweede wedstryd teen die Eastern Rugby Colonials met 41 – 0 gewen.

Daar was verskeie televisiespanne, nie om die rugby af te neem nie, maar om verslag te doen oor moontlike betogings.

Maar die hemele het sy sluise oopgemaak; dit het gereën en gereën en daar het nie veel van die betogings in gietende reënweer gekom nie.

En toe het die toets gevolg: ʼn dag vroeër as wat beplan was en voor net 30 toeskouers.

Wanneer die rugbyseisoen later vanjaar hervat gaan word, sal daar weer nie toeskouers wees nie.

Vandag se spelers kan dus maar gerus vir Wynand Claassen gaan vra hoe dit voel om sonder toeskouers rugby te speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.