Bokke en Poemas in dieselfde sinkende bootjie

Suid-Afrika en Argentinië is in dieselfde sinkende bootjie wat hul té ambisieuse kiesbeleid ten opsigte van oorsese spelers vir hul nasionale spanne betref.

Alle aanduidings is dat die Argentynse Rugbyunie (UAR) sy beleid van geen oorsee-gebaseerde spelers in die Poemaspan eersdaags sal skrap.

Die SA Rugbyunie (Saru) het egter nog geensins aangetoon of hy sy afsnypunt van 30 toetse vir sulke spelers sal hersien nie.

Saru en die UAR het gehoop om met dié maatreëls die uittog van spelers na die geldpotte van Europa te stuit, maar dit het nie geslaag nie. Hulle (die Springbokke en die Poemas) is daardeur bloot daarvan weerhou om hul beste spanne in die veld te stoot.

In Argentinië se geval het hy voor die instelling van die beleid die halfeindstryd in 2015 se toernooi om die Wêreldbeker gehaal; sedertdien kon hy net ses uit 25 toetse wen.

Suid-Afrika, eweneens ʼn halfeindstryder in 2015, het van tweede op die wêreldranglys tot sesde geval. Sy probleem is ingewikkelder, maar ook hy sal baat vind by groter vryheid wat die keuse betref van spelers wat oorsee speel.

♦ Intussen het Argentinië se grootste rugbyspeler van alle tye, die legendariese losskakel Hugo Porta, kaalvuis onder die spelers (en sommer ook teen dié land se Superrugby-franchise, die Jaguares) ingeklim.

Hy het onder meer aan die webwerf A La Contra gesê spelers moenie betaal word om vir Argentinië te speel nie, maar andersom.

Húlle moet eerder betaal vir die voorreg om vir Argentinië te speel omdat dit hul markwaarde in Europa verdubbel of verdriedubbel, het die man wat van 1971 tot 1990 in 66 toetse gespeel het, gesê. Die geld wat só geïn word, kan syns insiens vir spelontwikkeling in Argentinië aangewend word.

Porta, wat die Suid-Amerikaanse Jaguares op drie toere na Suid-Afrika gelei het, het bygevoeg dat die Jaguares se gesukkel in Superrugby hom allermins verbaas.

Volgens hom is die span ʼn “siellose” produk van beroepsrugby.

Hy sê dis nòg ʼn klub nòg ʼn verteenwoordigende span, maar eenvoudig ʼn groep spelers wat saamgeflans is om vir geld kragte teen ander soortgelyke groepe te meet.

Porta is in 1991 as Argentinië se ambassadeur in Suid-Afrika aangestel, en het drie jaar later dié land se minister van sport geword.

♦ Die UAR het gehoop die Jaguares se deelname aan Superrugby sal Argentynse rugby se peil ophef, maar dit lyk ook nie of dit daarin slaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.