Bokke: Ervaring agterlangs is dun met Damian en kie

Damian Willemse die heelagter op die aanval in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd. (Facebook Foto Leon Lestrada)

Die WP se heelagter en die Stormers se losskakel is dieselfde man, en Rassie Erasmus het groot planne om hom geleidelik by toetsrugby in te lyf.

Wat ʼn mens weet, want Erasmus het dit gesê, is dat Damian Willemse in die Rugbykampioenskap op heelagter sy toetsdebuut sal maak. Of dit in die opdrafspan sal wees of van die bank af, is nie ter sake nie, want hy is ʼn spesiale speler.

Willemse het vanjaar as 20-jarige op losskakel vir die Stormers die oog gevang. Soos Handré Pollard is hy op die aanval nie bang om kontak te maak nie, soos Henri Honiball en later Butch James ook gedoen het. Willemse se verdediging as losskakel was ook goed, soos die drie genoemdes s’n.

Die jong Willemse is egter nie ʼn nuweling op heelagter nie. Hy het immers, onder meer, in verlede jaar se weneindstryd vir die WP daar uitgedraf.

Die vraag is: Hoeveel keer en in watter stadium gaan hy op heelagter in die eerste toets of twee speel? Want daar speel, gaan hy daar speel, dít is gewis. Dit is veral so omdat dit lyk of Erasmus die deurmekaarspul oor die drie oorsese spelers oënskynlik opgelos het oor wie wanneer waar mag speel.

Dit sal raakvat van Erasmus kos, want Willemse sal bes moontlik saam met twee amperse toetsgroentjies op vleuel sy man moet staan. Aphiwe Dyantyi en Makazole Mapimpi is die twee gunstelinge om vleuel te speel.

♦ Daar sal met die opdrafslag ook twee amperse toetsnuwelinge in die middelveld wees. Erasmus het reeds laat blyk dat die twee Durbaniete van die Sharks saam sal begin. André Esterhuizen sal aan die binnekant uit die ervaring van Pollard kan put, en Lukhanyo Am sal op buitesenter begin.

Jammerte, want Jesse Kriel speel vanjaar kookwaterrugby ‒ en hy het darem al ʼn paar jaar se internasionale rugby en ook 32 toetse agter die blad.

♦ Jy hoef nie eers fyn te kyk na die waarskynlike vyf snellers in die agterlyn nie. Met Le Roux, Dyantyi, Am, Esterhuizen en Mapimpi as die snellers, is daar duidelik ʼn groot gebrek aan ervaring in die Bokke se agterlyn.

Kriel en dalk Lwazi Mvovo kan ná 60 minute of so egter ervaring byvoeg as dit nie te laat is nie.

♦ Dit lyk ook of Eben Etzebeth, wat reeds geruime tyd saam met die Bokke oefen, maar nie wedstrydtyd agter die rug het nie, in die beginspan sal wees.

Wat is die plan met Pieter-Steph du Toit, RG Snyman en Franco Mostert? Een sal as slot saam met Etzebeth begin, en een seker sal op die bank wees. En waar is daar plek vir die vyfde een, waarskynlik Snyman?

Dis darem lekker om darem in een posisie reeds soveel diepte te hê. Tog jammer van oorsese manne soos Duane Vermeulen, Frans Steyn, Jan Serfontein, Marcell Coetzee wat nie hier sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Callie ·

In die agterlyn dan net die losskakel en skrumskakel wat nie kwotas is nie. Binnesenter elke keer gevou teen NZ spanne. Kom nou Rassie. Dis hartseer maar ek begin dit geniet

nico k ·

Wel Callie, jy moet erken SA het die meeste van die tyd die afgelope 25 jaar teen New Zeeland gevou. So om ‘n speler uit te gooi wat teen NZ vou is bietjie belaglik.
Wat iemand vir my moet verduidelik is hoekom is die oorsese speleres nie beskikbaar nie. Ek dog daar is ‘n internasionale reel dat sekere datums in die jaar vasgestel word vir toets rugby en nasionale spanne in sulke wedstryde voorkeur moet kry.

rugby mal ·

die verpligtinge van oorsese klubs kry duidlik waar voorkeur en die spelers wat in Japan speel se seisoen begin selfde tyd as ons internasionale seisoen..dis die rede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.