Bokke gereed vir aksie, maar tog lugtig vir samoerai-gevaar

Francois Louw saam met ’n paar plaaslike ondersteuners. Foto: Twitter.

Welkom in die land van soesji, vrék vinnige treine én die Wêreldbeker-rugbytoernooi!

Die Springbokke het gister, ná ’n vlug van 25 ure, in alle erns met voorbereidingswerk vir hul aanslag op die William Webb Ellis-trofee begin.

En, ten spyte van die druk wat’n Suid-Afrikaanse rugbyspan by ’n internasionale sportskouspel ervaar, lyk dit asof die Bokke hul avontuur tot dusver geniet.

“Dit is ongelooflik om hier te wees en die verwelkoming wat ons van die Japanners gekry het, was verstommend,” het Bok-breier Rassie Erasmus gesê.

Die span oefen tans in Seki en 2 000 plaaslike rugbygeesdriftiges het gister by hul oefening opgedaag om die span te ondersteun.

“Ons het baie respek vir Japannese rugby,” het Erasmus gesê nadat hy vir die soveelste keer uitgevra is oor die Japanners se sege (34 – 32) oor die Bokke in die 2015-Wêreldbekertoernooi in Engeland.

“Hulle het ’n bobaas-afrigterspan wat al vir ’n hele ruk planne beraam vir die komende opwarmingswedstryd en hulle is vasbeslote om te bewys dat 2015 nie ’n frats was nie.”

S’bu Nkosi. Foto: Twitter.

Die Bokke het Vrydag ’n opwarmingswedstryd teen die gasheerland en hoewel ’n weerligstraal twee keer dieselfde boom kan raakslaan, gebeur dit nie sommer nie.

Tog sal Erasmus nie die Japannese onderskat nie.

“Hulle is baie fiks en is die nuutgekroonde wenners van die Pacific Nations-beker nadat hulle onder andere met Tonga, die VSA en Fidji afgereken het; dus sal hulle baie selfvertroue hê. Boonop is hulle tans die negende beste span ter wêreld – hul beste posisie óóit op die wêreldranglys.

“Hulle het ’n fliek gemaak van hul Brighton-sege vier jaar gelede. Dit is ons werk om toe te sien dat hulle nie ’n opvolgfilm kan vervaardig nie.”

Op papier hoef Erasmus nie veel hieroor te bekommer nie – opvolgflieks is buitendien nooit so goed soos die eerste produksie nie – maar soos wat Naas Botha sou sê, ’n rugbybal kan op ’n wedstryddag vir enige span reg bons.

  • Die wedstryd sal regstreeks op SuperSport 1 uitgesaai word en afskoptyd is Vrydag om 12:15.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rubber ·

By die wêreldbeker is dit die Bookies wat bepaal wie wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.