Bokke gereed vir spesiale vertoning teen Iere – Kolisi

Siya Kolisi. (Foto: Nderim Kaceli/NurPhoto via AFP.)

Ierland is die voorste rugbyspan ter wêreld en Andy Farrell se spelers het 27 van hul laaste 29 toetse gewen.

Hul jongste onoorwonne lopie strek oor 14 wedstryde en dit sluit verlede jaar se Springbok-tweestryd in; ʼn wedstryd wat hulle met 19–16 in Dublin beklink het.

Nou is die tafel gedek vir ʼn watertand-ontmoeting tussen die Iere en die Springbokke in Frankryk: Die wêreldnommereen-span teen die verdedigende wêreldkampioen op die ikoniese Stade de France.

Die wenner sal die septer in Groep B van die Wêreldbeker-toernooi swaai en volgens Siya Kolisi kan dit een van die belangrikste wedstryde in die spelers se loopbane wees.

“Dit gaan ʼn spesiale vertoning verg om Ierland te klop. Ons het wel baie uit ons vorige wedstryd geleer en al twee spanne speel tans goeie rugby; dit is ʼn lekker tyd om teen hulle te speel,” het die Springbok-kaptein gesê.

Kolisi glo dat die Bokke se vertoning by die afbreekpunte deurslaggewend in hul uiteindelike sukses kan wees.

“Ierland het ʼn paar spelers wat baie doeltreffende rugby in dié afdeling van die spel kan opdis en dit gaan ʼn groot invloed op die wedstryd hê.”

Suid-Afrika beskik ook oor ʼn paar afbreekpunt-bielies. Selfs in Malcolm Marx se afwesigheid kan Deon Fourie, Kwagga Smith en Steven Kitshoff steeds hul teenwoordigheid laat geld.

Terselfdertyd sal goeie dissipline van sleutelbelang wees. ʼn Strafskop hier en ʼn strafskop daar kan dikwels die verskil tussen wen en verloor beteken.

ʼn Span soos Ierland sal ook foute straf waar dit hul teenstanders die seerste maak, naamlik op die telbord.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Marco van Staden, Kwagga Smith en Cobus Reinach.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Ja moet net nie te verseker van jouself wees nie.Baie spanne het al tweede gekom omdat hulle gedink het hulle is die kat se snor.

vuurvliegie ·

Die koppies raak verseker te groot om nie eers van arrogansie te praat nie. My geld is op die Iere.

Chrisp ·

My span is die Iere ek dink hulle het wel ‘n kans om die proteas te troef.

Kobus ·

@Jack, stem, doen eers die werk en spog dan. Maar positiewe denke is ook belangrik. Ek glo die Bokke sal dit maak maar dat dit moeilik gaan wees is gewis

melaney ·

Soos hulle sê “The luck of the Irish.” Maar nou ja, kom ons kyk hoe lyk dit môre …..

Gerhard ·

Van my kant af….dit is baie belangrik om selfvertroue te he en ek is doodseker ons SA span het dit verseker, maar hulle is beslis nie arrogant of oorverseker van hulle saak nie. Ek dink hulle sal die wedstryd met die nodige erns wat dit moet aanpak. Die Iere is ‘n baie goeie span, maar, op die dag kan enige span die wenner wees…Dit gaan beslis die wedstryd van die Wereldbeker sover wees en ek sal my span, die Bokke, ten volle ondersteun en ek glo ons kans is net so goed soos Ierland sin om die knoop deur te haak. Ek dink ons gaan in as die underdogs en ek love dit. Jacques en Rassie het ‘n plan en ek ondersteun hulle 100% in hulle plan. Hierdie gaan ‘n titaniese stryd wees wat gewen sal word met fiksheid en dissipline onder andere. Boland en Bok groetnis

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.