Bokke glo teen Munster, maar Rassie krap klubbase om

Daar was die afgelope week heelwat verwikkelinge met Suid-Afrikaanse raakpunte by Munster, Rassie Erasmus se voormalige klub in Ierland waar Johann van Graan nou die hoofafrigter is.

Die vernaamste nuus uit Ierland is seker die moontlikheid van ʼn wedstryd tussen die Springbokke en Munster  op laasgenoemde se tuisveld Thomondpark.

Die nuus is deur Irish Independent bekend gemaak.

Hoe, wat en wanneer dit sal gebeur, sal seker binnekort ná die huidige samesprekings daaroor bekend wees, maar dit sal na alle waarskynlikheid ʼn soort opwarmwedstryd wees voor die jaareindtoetse wat Engeland en Skotland insluit.

Ja, Rassie laat dinge gebeur, maar dit is nie noodwendig dinge waarmee Munster saamstem nie.

♦  Daar is by Munster ontsteltenis dat Erasmus die klub se afrigterspens leeg wil koop.

Verlede week het hy reeds die hoogaangeskrewe fiksheidsafrigter van Munster, Aled Walters, nadergetrek. Hy is eersdaags deel van SA rugby se opset.

♦  Nou het Erasmus ook die klub se vaardigheidsafrigter, Felix Jones, vir die Suid-Afrikaanse nasionale spanne probeer lok. Jones het egter die aanbod van die hand gewys, want dit blyk dat Ierland hom vir ʼn pos op hulle afrigtingsbestuur grootmaak.

Jones het verlede jaar saam met Ierland na Japan getoer. Die Ierse afrigter, Joe Schmidt, dink klaarblyklik die wêreld van die voormalige heelagter se vermoëns as vaardigheidsafrigter.

Daar is steeds ontsteltenis by Munster dat Erasmus sy ou vriend en kollega, die verdedigingsafrigter Jacques Nienaber, saam met hom Suid-Afrika toe gebring het.

♦  Dan begin die Suid-Afrikaanse rugbyspens al hoe vroeër leegloop. Twee voormalige Cravenweekspelers, die stut Keynon Knox, wat maar 18 jaar oud is, en die senter/heelagter Matt More, slegs 19, het hulle by Munster aangesluit.

Knox het verlede jaar vir KZN Cravenweekrugby gespeel. Hy was by Michaelhouse op skool.

More is ʼn produk van St Andrews College in Grahamstad en het in 2016 vir die Oostelike Provinsie in die Cravenweek uitgedraf.

Hulle is van plan om oor drie jaar te kwalifiseer om vir Ierland te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.