Bokke het nie die skietgoed wat saak maak nie

Richie McCaw

Richie McCaw

Ná drie powere toetse kan ‘n mens seker realisties vra of die Springbokke die spelers het wat die All Blacks kan klop, en of  ons maar net stilletjies moet bid dat die Kiwi’s nie te ver wen nie.

Die All Blacks het die bal in die toets teen die Poemas net agt keer geskop en is van plan om die Bokke in dieselfde speelstyl aan te vat. Dit beteken hulle wil hul teenstanders kis hardloop en deurmekaar speel.

Voor ons verder gaan: Die Bokke het teen die Wallabies verloor omdat Morné Steyn ‘n strafskop nie uitgeskop het nie en omdat die Bokke se kondisionering, vaardighede en kombinasies tekortskiet. Nadat hulle in die laaste ses minute die een aanval na die ander op hul doellyn moes weerstaan, was daar net nie genoeg petrol in die tenk oor om wal te gooi teen ‘n bra gewone agterlynbeweging van die Wallabies nie.

Die geel kaart aan Habana was diabolies – daaroor stem ook oorsese kenners saam – en ‘n lynstaan van die mislukte skop sou hom teruggebring het. Of hy die drie van linkervleuel af sou kon help keer as hy toe al daar was? Nou ja, ons sal nooit weet nie.

Hier kan ‘n mens byvoeg dat die geelkaartstelsel besig is om ‘n klug van wedstryde te maak wanneer dit so ligtelik toegepas word – en wanneer daar in ‘n Curriebekerwedstryd sommer vyf van hulle uitgedeel word.

Die Bokke het drie keer gevaarlik gelyk: met Hendricks se drie in die twaalfde minuut, ‘n mislukte aangee tussen Etzebeth en De Villiers ná Habana se sterk lopie in die 45ste minuut en ‘n mislukte lynstaandryf in die 68ste minuut

Drie vereistes vir ‘n baldraer

Maar terug na die All Blacks. Die Bokke kan net nie die huidige vaardigheidsvlak van hul voorspelers ewenaar nie en ook nie die vaart en finesse waarmee hulle dinge doen nie. Nieu-Seeland het ‘n gesentraliseerde stelsel vir kondisionering en die aanleer van vaardighede, Suid-Afrika het dit nie.

Ons skakelpaar se graderings het op drie verskillende webwerwe tussen 3 en 5 gewissel. Die twee (binne)senters het meer gekry, maar sonder om die wêreld aan die brand te speel. Die enigste toorkrag waaroor ons agterlyn beskik, is in Willie le Roux gesetel.

Brendan Venter skryf op SuperSport (reeds voor die toets) Morné Steyn is nie die soort speler wat uitdagings aan die verdedigers stel nie.

Op die gebied van offloads – die bal in die duikslag uitgee – en taktiese rolskoppies is die Bokke, behalwe Willie le Roux, ook nog in die B-liga. Al drie die ander toetsspanne het die naweek getoon hoe effektief dit kan wees.

Om ‘n bal met sukses te dra, moet jy vaart, fisieke manhaftigheid en eksplosiewe krag hê, het Venter geskryf. Hoeveel Springbokke kwalifiseer hiervoor? Die Wallabies het Folau en Beale gehad, die Bokke nie.

En die All Blacks het baie meer sulke spelers.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HEVW ·

Lyk my die hele SA rugby het vasgeval in die groef van oorlewing en gemiddeldes. Almal tevrede met die vergoeding wat ontvang word. Genoeg om van te lewe. Miskien moet die toeskouers weer n slag hul ontevredenheid vanaf die paviljoen laat blyk. Ek meen dit het in die verlede nogal gewerk. Mense waar is die vuur van gemotiveerdheid.?

Johannes ·

Dit is maar nog net die begin wag tot mister van sport let wel mister van sport en kwotas begin deurkom dan gaan dit eers ‘n gemors wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.