Bokke het nie verdien om te verloor nie, of het hulle?

Malcolm Marx, oomblikke voordat hy die bal na Jean-Luc du Preez laat loop wat gaan druk het. (Foto Twitter @Springboks)

Dit was hartverskeurend.

Trouens, dit was erger as om jou suster te soen, soos daar na die twee onlangse gelykopuitslae teen die Wallabies verwys is.

Maar die Springbokke het oplaas ʼn punt bewys. Hulle het oplaas die rugby gespeel waarop daar so lank gewag is, en hulle het baie van ons stil gespeel.

Die Bokke het Saterdag op Nuweland hul beste vertoning van die afgelope paar jaar gelewer, maar die All Blacks kon steeds met 25-24 deurskraap nadat hulle rustyd met 8-3 voor was in die toets in die Rugbykampioenskap.

Hoe word daar gesê: Die kenmerk van ʼn goeie span is om te bly wen, al word hulle byna van hul voete af gespeel.

Daar was groot vreugde in die All Blacks se kamp toe die eindfluitjie geblaas het. Daar was eintlik maar min vir hulle op die spel, maar hulle het hul hande in die lug gegooi en mekaar omhels  toe die plaasvervanger-losskakel, Lima Sopoaga, die bal uitgeskop het.

Nou die groot vraag: Hoekom het die Bokke nie so teen die Wallabies gespeel nie?

Hoekom het dit byna twee jaar gevat om met soveel passie te speel, soveel veggees te toon, om die basiese beginsels so goed uit te voer, om rotsvas te verdedig, om mekaar te ondersteun en hul lywe vir mekaar op die spel te plaas?

Die Bok-pak was ysters, met Malcolm Marx vooraan.

Hoe die besluitnemers die speler van die wedstryd-eerbewys aan die vlugvoetige All Blacks-heelagter, Damian McKenzie, en nie aan Marx gegee het nie, sal net hulle weet.

Ja,  McKenzie het die wendrie gedruk, en hy het ʼn hele paar keer die Bok-verdedigers geflous. Maar beter as Marx? Aikôna.

Saam met Marx was Steven Kitshoff, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Pieter-Steph du Toit skitterend op die aanval en verdediging. Eintlik die hele pak en die bank. Hulle het geskrum, gespring, gedryf en gemaal, en hulle het die All Blacks ʼn paar lesse geleer.

Die agterlyn het ʼn hele paar keer oor die voordeellyn gekom. Ja, Elton Jantjies het verbrou toe sy skop deur Beauden Barrett afgestorm is en dit tot Ryan Crotty  se drie gelei het.

En ja, Ross Cronje het dalk te veel en te diep geskop en ja, toe dit wel saakgemaak het, is een of twee duikslae gemis.

Maar hopelik het die wiel nou gedraai.

Maar nou ook die negatiewe: weer Ruan Dreyer se skrumwerk, of eerder die strafskoppe wat hy afgestaan het. Ook die oomblik van waansin toe Damian de Allende ʼn rooikaart  diep in die tweede helfte gekry het toe hy Sopoaga laat met die elmboog geloop het.

Dit was kras. Sopoaga het ʼn Oscar verdien, maar dit wás laat. Dit het boonop tot die strafdoel gelei wat die All Blacks met 25-18 laat voorloop het en op die ou einde laat wen het.

Nog negatiewe? Byna niks nie, want die Bokke het byna die onmoontlike verwag.

Ek hoop van harte die Bokbestuur het nou gesien wie die beste span en spelers is.

Puntemakers

Suid-Afrika (3) 24: Drieë: Ross Cronje, Malcom Marx, Jean-Luc du Preez. Doelskoppe: Elton Jantjies, Handré Pollard. Strafdoel: Jantjies.
Nieu-Seeland (8) 25: Drieë: Ryan Crotty, Damian McKenzie, Rieko Ioane. Doelskoppe: Lima Sopoaga 2. Strafdoele: Beauden Barrett, Sopoaga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

PhilipGersbach ·

Julle sal dit nie plaas nie want dit is polities nie korrek nie!@

Twee minder B E E spelers!! Beast en Cassiem en wat n verskil ????

Pietsepan ·

En ek is dus nie die enigste wat dit raakgesien het nie.

Lol ·

En wat was/is jou opinie toe Beast ons beste loskop stut was? Was hy toe nie kwota maar nou is hy?

Lol ·

Waarom geen krediet aan afrigters oor keuses van Pieter-Steph du Toit en Louw uit posisie en briljant gedoen?

Frans C ·

De Allende sorg toe vir die Bokke se ellende.Lyk my afrigter is behep met die man.

SjN ·

Marx moes man van die wedstryd gewees het, Rooikaart was onnodig, te veel doellose skoppe en n paar misvatte , te veel voorspelers in agterlyn, baie beter wedstryd gewees as verlede week, moet punte neem as dit binne skop afstand is, verstaan nie hoekom hulle lyn toe skop of skrum nie, die bal kan afgeneem word, en dit gebeur nogal baie in wedstryde, tik en dryf en maak bal vas, kan dan beide kante toe laat loop. Sterkte vorentoe

pbotha ·

great bokke! pollard het dadelik verskil gemaak met aanvallende spel..hoop nie hy is weer beseer nie! Gelant op 15…2 nuwe vleuels en skrummie… en ons vat die Blacks!! Gersbach… simpel stelling…Beast steeds 1 vd bestes in d wereld. En Kolisi was oral op die veld…al die vories inteendeel het groot rugby gespeel.

Chrisjan ·

Die bietjie wat op die nuus gewys was het my laat dink die All Blacks was deur iemand omgekoop om net genoeg te doen om te wen om die bokkies beter te laat lyk.Ek hoop ek is verkeerd maar ek twyfel.

Rupert Ashford ·

Jy is reg Chrisjan. Dieselfde vrottes nogsteeds daar. Storie sal hartseer voortploeter.

PieterB ·

Ek wonder ook…
hoe kan die selfde 2 spanne, enkele weke uitmekaar, eenkeer ‘n 0-57 telling en dan 24-25 hê? Ek weet regtig nie veel van die tegniese goed van rugby af nie, maar vir ‘n leek soos ek, lyk iets nie lekker nie. Altwee spanne se afrigtingspanne het tog dieselle gebly? Of het ek iets gemis?

Divan ·

Eerlik dink ek almal moet net die bokke los dat hulle hul self vind. Die all blacks het gesien wat in die span steek en daarom hulle bestest gebring. Ek voel die all blacks uit respek vir ons bokke die beste uit ons spellers gebring. Moet nou nie rond flip en spellers rond good as hul nou eers mekaar se spell patron Ken nie. Bou met wat julle het. As n ou verdien on spring bok te wees laat hom. Kyk siya kholisi. Het netso mooi gespeel. Kommetators, ek daag julle. Speel die wedstryd self en last die bokke kyk en kommetators wees. Dit sal circus spesiaal wees vir bokke se genot.

Nugter ·

Ek dink die voorvadergeeste het die Bokke in die steek gelaat…

Waghond ·

Dreyer moet waai. Verdediging van die vleuels was pateties. Wedstryd het ook bewys daar is geen plek vir Uzair wat tans beseer is.

Chris - potchefstroom ·

Pieter B . Ja jy het iets gemis— Daar was 2 minder kwota spelers in begin span .As Pollard en du Preez in begin span was,dan was dit verseker ‘n ander storie.

Bantam ·

Baie goeie game , Pollard het weer gewys hy is n tweede Johan Goosen en ja , Marx speler van die wedstryd !

lollie ·

Voorspelers uitstekend (behalwe Dreyer) maar o wee die agterlyn. Cronje is seker die stadigste skrumskakel wat ek nog op toetsvlak gesien het (selfs stadiger as meerkat Pienaar en Hougaard); Junktjies pateties; Coetzee bloot gemiddeld en bring niks ekstra nie en so ook Kriel; Serfontein die enigste een wat lyk of hy daardie iets ekstra het wat nodig is; ons twee vleuels lyk soos brandmaer merries in vergelyking met NS se gespierde en atletiese resiesperde…. Marx, Etsebeth, Kitshoff en Du Toit kan die beste in die wereld word.

Peet Wessels ·

n Mens moet iets positief sien of self besit om trots op te wees.
Voor gister het ons vir jare niks kon raak sien waarop ons trots kon wees in n bok spel. Inteendeel die trots het afgeneem en baie van ons het moedeloos geword en het rugby begin afskryf asof dit deel was van nog n politieke nederlaag!
Dit wat ons gister gesien het het weer daardie trots laat opvlam!
Die veggees, jou liggaam op die spel plaas, jou beste gee….!!
So n wedstryd laat trots weer selfs opvlam in spelers en dit dan so ook oordra na hul ondersteuners.
Hou politieke elemente uit sport….!
Dit demotiveer spelers, breek hul wil en trots om hul beste te gee!

Gister se game het my ook net laat dink hoe vinnig ons land weer kan positief draai….. !
Bv…net die regte leier en president kan ALMAL weer erg trots maak op ons land. Daardie selfde veggees en trots openbaar om ons land weer te herstel na die glorie wat hy beskik!

Bou op dit van gister bokke!!
Dit maak ons trots…!!

Pietsepan ·

Nog te veel foute maar dit word beter by die dag. Die jong voorryman, wat is sy naam nou weer? Was uitstekend. Dreyer moet meer gimnasium toe gaan.

Lol ·

Ek probeer al die hele seisoen kommentaar lewer dat Dreyer skrum soos ‘n reier, maar dit word nie geplaas nie?

A. Mac ·

Hartverskeurend?????? Kan nie glo dat daar mense is wat voel dat hulle in sak en as is nadat die span verloor het terwyl daar werklik baie groter kwessies in die land en in die wereld is. Die bokke het verloor, oor en uit, jy kan nie altyd wen nie, en as jy nie wen nie, aanvaar dit en gaan aan. Wat se voorbeeld stel dit as julle nou begin derms uitryg oor daar verloor is? Die lewe bestaan nie net uit wen, wen, wen nie. Daar moet verloorders ook wees.

Nugter ·

A. Mac, ek stem saam met jou. Plaasmoorde, verkragtings, besoedeling van God se natuur en sulke dinge is hartverskeurend. ‘n Oorbetaalde rugbyspan wat met trots ‘n 46664 nommer op hul truie vertoon maar nie eens ‘n wit lint in empatie met die slagoffers van plaasmoorde eenkeer wil dra nie wat verloor is allermins hartverskeurend. Dis net veelseggend…

Tande muis ·

Andre Lood het die 3de meeste duikslae uitgevoer in die game……kolise was nie in die game du preez manne is ysters ross is nie n goeie skrummie al vir die doelose skoppe dreyer is nie ons beste nie well done aan wilco louw….. marx is en was n YSTER stem saam met Lollie oor die agterlyn BLY ASB WEG VAN “DE ELLENDE”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.