Bokke is boelies, sê Eddie Jones

Eddie Jones (the guardian.com)

Eddie Jones (the guardian.com)

Die veer word nou al opgewen en sal tot breekpunt gespan wees wanneer die Bokke en Engeland mekaar op 12 November op Twickenham pak.

Die breedsprakerige Engelse afrigter, Eddie Jones, het reeds begin met sy kopspeletjies – en wees verseker dat die toets ʼn kruitvat sal wees.

“Jy weet hoe hulle  is, hulle is boelies, so dit sal ʼn groot taak vir ons groep van 23 spelers wees,” het Jones op die BT Sports Rugby– program gesê. Die Engelse kon sedert 2006 nog  nie die Bokke klop nie, maar geoordeel aan huidige peil, kan die bordjies verhang word. Die Engelse beleef ʼn opwaartse kurwe, Jones het die ondersteuning van die Engelse klubs en sy spelers het ingekoop by sy wedstrydplan.

En die Bokke? Slae teen die Iere, slae teen die Poemas en dit lyk nie of die Bok-afrigter, Allister Coetzee, weet wie sy beste opdrafspan is nie.

Jones het,  “sonder om arrogant te wees”,  gesê dat  hy verwag het dat Engeland vanjaar se Sesnasies (die eerste keer in 13 jaar) sou wen en ook die toetsreeks in Junie met 2-1 teen die Wallabies sou beklink. Die Engelse het teen alle verwagtinge in met 3-0 geseëvier.

En asof dit nie genoeg is nie, het hy gesê dat die Engelse spelers se fiksheid met 6 en 7 persent moet verbeter as hulle die beste ter wêreld wil wees.

Die Bokke en Engeland het sedert 1906 reeds 37 keer teen mekaar gespeel, waarvan die Bokke 23 gewen het en 12 verloor het. Twee toetse, insluitende die eerste toets in 1906 (3-elk) het gelykop geëindig.

Die één toets wat die Bokke baie gou wil vergeet, was in 2002 toe die Engelse hulle met 53-3 op Twickenham gekarnuffel het.

Daar is geskop, getrap en geslaan en die Bok-kaptein, Corné Krige, het later in sy outobiografie erken dat hy sy kop verloor het en daarop uit was om van die Engelse spelers te beseer. Dit het natuurlik nie gehelp nie dat Jannes Labuschagne afgejaag is nie, maar die strik was gestel, en toe trap die Bokke daarin.

Die Engelse was allermins engeltjies (twee Bokke het harsingskudding opgedoen … André Pretorius deur die toedoen van Krige) maar die dag was ʼn klad op Springbokrugby se naam.

Hopelik sal Coetzee en die Bok-kaptein, Adriaan Strauss nie op daardie stap besluit nie.

Jones sal uit sy pad gaan om die Bokke te ontsenu en as hy dit regkry, is die stryd reeds gewonne.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkalas ·

Soos dit nou lyk gaan dit nie moeilik wees vir Engeland om die Bokke te klop nie. Hulle beleef ‘n opwaartse kurwe waar die Bokke ‘n “freefall” afwaarts het. In albei gevalle is die afrigters verantwoordelik daarvoor. Dis nog lank voor November en ons kan nog “rockbottom” slaan voor daai tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.