Bokke kan Baabaas na die slagpale lei

logo-barbariansDie Bokke het nie `n goeie vertoningslys teen die Barbarians nie en dis hoekom hulle sake einde aanstaande jaar moet regstel.

Die SA Rugbyunie (Saru) het Woensdag aangekondig dat die Bokke op 5 November 2016 teen die Baabaas in die Wembley-stadion in Londen sal speel. Die Bokke speel ook teen Wallis en Engeland en nog `n wedstryd(e) sal by die toerprogram ingesluit word.

Die Bokke het sedert 1952 sewe wedstryde teen die Baabaas gespeel en net drie daarvan gewen. Dit gee aan die Baabaas `n wenpersentasie van 57,14%. Dit vergelyk goed met hul swak vertoningslys teen die Wallabies (23%) en die All Blacks (20%).

Die Baabaas kon net twee van hul tien wedstryde teen die All Blacks wen en was ook net  drie keer in 13 wedstryde teen die Wallabies aan die wenkant.

Dis effe vreemd dat die Bokke se kragmeting met die Baabaas die eerste van die toer ná die Noordelike Halfrond sal wees. Wedstryde teen die Baabaas vind gewoonlik (sedert 1948) aan die einde van die toer deur spanne van die Suidelike Halfrond plaas, dis hoekom dit bekend staan as die “Laaste Uitdaging”.

Dit was die geval in 1952, 1961, 1994, 2000, 2007 en 2011. In 1961 het die Bokke ook teen die Baabaas gespeel en hoewel dit die laaste toerwedstryd in Brittanje was, het hulle daarna `n draai in Frankryk gaan maak wat `n toets teen die Hane ingesluit het.

Ek wonder hoe sterk sal die Baabaas dié keer wees, want die All Blacks, Wallabies en Poemas toer ook in die Noordelike Halfrond en ek glo nie hulle sal hul beste spelers beskikbaar stel nie. Die tuisunies berei ook voor, dus kan hul beste spelers ook in watte toegedraai word.

Maar nou ja, wees verseker daarvan dat die stadion volgepak sal word en dat die geldkoffers gevul sal word.

Die Baabaas het die eerste keer in 1889 gespeel en spelers van 27 lande het die tradisionele swart-en-wittrui al oor die kop getrek.

Spelers word uitgenooi om vir die Baabaas te speel en dis een van `n speler se groot hoogtepunte van sy loopbaan. Die span bestaan normaalweg net uit toetstspelers, met een speler wat nog nie toetsrugby gespeel het nie. Hulle motto is om aanskoulike rugby te speel – dink maar aan dié drie van die vorige eeu wat Gareth Edwards in 1973 teen die All Blacks gedruk het.

Maar moenie hierdeur mislei word nie, want Kitch Christie se Bokke het in 1994 in `n strik getrap  en met 15-23 verloor. (Die wedstryd was nie `n toets nie, dis hoekom Christie se Bok-wenperesentasie op 100% geëindig het.) Die Bokke het Baabaa-hardlooprugby in moeilike toestande probeer speel, die Baabaas het soos die Bokke gespeel.

Maar dié keer glo ek die Bokke sal te veel doepa teen `n effens verwaterde Baabaa-span hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.