‘Bokke kan bordjies in Australië verhang’

Malcolm Marx kan ’n deurslaggewende rol in Australië speel. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke vertrek binnekort na Australië waar hulle in twee Rugbykampioenskap-toetse teen die Wallabies gewikkel sal wees.

En waar die Suid-Afrikaners al 48 van die 90 toetse teen die Aussies gewen het, sorg hul rekord in Australië hoegenaamd nie vir indrukwekkende leesstof nie.

In 41 wedstryde het die Springbokke nog net 12 keer as oorwinnaars van die veld gestap terwyl hulle die Wallabies laas in 2013 op hul tuisveld kon klop.

Maar volgens Jimmy Stonehouse beskik die Suid-Afrikaners ongetwyfeld oor die vermoë om die bordjies nou in Adelaide en Sydney te verhang.

“Alle wegwedstryde is moeilik,” het die gewilde afrigter van die Curriebeker-wenspan, die Pumas, gesê.

Hy meen dat spelers soos Frans Malherbe, Trevor Nyakane, Eben Etzebeth, Malcolm Marx en kie die grondslag vir ’n Springbok-sege kan lê.

“Suid-Afrika het ’n baie goeie pak voorspelers wat oor die vermoë beskik om ander spanne te oordonder.”

Hoewel die Springbokke se verdedig-en-skop-meesterplan nie noodwendig die wedstrydplan is wat daar in die Laeveld gevolg word nie, glo hy dat Siya Kolisi se span nie sommer daarvan sal afwyk nie.

En indien alles volgens plan verloop, kan wedstryde op só ’n manier gewen word.

“As die Springbokke byvoorbeeld met die laaste twee box kicks op Ellispark weer die bal in die hande gekry het (soos wat hulle ’n week vantevore in Nelspruit gedoen het), was die wedstryd tien teen een in die sakkie.”

Maar net soos ’n bal wat toegelaat word om te bons enigiemand se bal op die rugbyveld is, so is ’n hangskop ook ’n berekende waagstuk. En in Johannesburg was die All Blacks se Jordie Barrett uitstekend onder die hoë bal.

Vincent Koch. Foto: GB Jordaan.

Stonehouse is trots om spelers soos Faf de Klerk en Vincent Koch in Springbok-kleure te sien; dit was immers die Pumas wat vroeg in hul loopbaan vir hulle speelkans gegee het.

De Klerk het die Laevelders in 56 wedstryde verteenwoordig, terwyl Koch ook meer as 50 keer in die Pumas-skrum gesak het.

Maar soos baie ander Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners is hy ook verbaas oor Evan Roos se weglating.

Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Elrigh Louw, Kwagga Smith, Jasper Wiese en Duane Vermeulen is die losvoorspelers wat in Australië sal diens doen.

“Ek dink iemand soos Evan Roos kan ’n definitiewe verskil in die Springbok-trui maak, veral met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi.”

Terselfdertyd glo hy ook dat daar hard gewerk moet word om Madosh Tambwe deel van die Springbok-opset te maak.

Springbokke se toergroep:

Voorspelers: Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nché, Trevor Nyakane, Joseph Dweba, Malcolm Marx, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Salmaan Moerat, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (kaptein), Elrigh Louw, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Duane Vermeulen, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Elton Jantjies, Handré Pollard, Lukhanyo Am, Damian de Allende, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Willie le Roux, Canan Moodie, Warrick Gelant, Damian Willemse, Jesse Kriel en Frans Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JohanR ·

En daar is Evan Roos by die huis gelos, maar Duane Vermeulen en Dweba bly. Nou hoop ek Australia gee hulle ‘n lekker loesing in al twee wedstryde….Go Aussies!

N ·

JohanR, dit is onverstaanbaar. Hoekom nie n span op vorm kies nie? Werk met die jong manne wat op vorm is en bou n span vir volgende jaar se wereld beker. SARU en Nienaber doen Roos n onreg aan. Een kans onder druk was nie vir hom genoeg om homself te bewys nie. Dan raak mens kwaad omdat jong talentvolle spelers die land verlaat, maar wat anders. Dalk moet Roos maar n geleentheid oorsee vat of hoe?

Anton ·

Roos, Johan Grobbelaar, Ruan Nortje,Zak Burger, Grant Williams in plays van Duanne, Salman, Jaden en Jantjies

Manie ·

Hoekom kan SA rugby nie Madosh Tambwe se papierwerk regkry nie, die man is groot en vinnig en kan ander vleuels laat bontstaan. Dan is Evan Roos op onlangse spelpeil ook strate beter as Duane Vermeulen. Vermeulen se ervaring kan egter deurslaggewend wees as “bomb squad” speler met 30 minute speeltyd oor.

krodedil ·

Die bom squad is daar om onfikse spelers te vervang. Dis eintlik ‘n skande.
Waar is die dae toe ‘n kaptein nog 80min lank gespeel het.

Manie ·

Almal behoort wedstrydfiks te wees om 80 minute lank te kan speel, maar die groot bank veroorsaak dat rugby se dinamika verander het. Tyd dat dit terugkeer dat slegs beseerde spelers vervang mag word.

JohanR ·

Ja Manie dink ook dat die reserwe bank moet net 5 spelers hille sit kry. Of twee voorspeelers, droe agterspeler of anders om. Dan sal daar spelers in die begin span wees wat sal moet 80 minute speel.

N ·

Tambwe, Fassi, Zas, Roos, Grobbelaar, Tyrone Green self Libbok en nog veel meer se talent word oorgeslaan vir manne wat die laaste tyd gewys het hulle hoort nie daar nie (Elton Jantjes, Hershel Jantjes, Kriel, Dweba en dalk Willie) Nie dat ek sê die bogenoemde is almal springbokke nie, maar gee die jong manne kans teen Aus en Arg. Ja Duane is nie op vorm nie, maar gee hom n wedstryd of twee en hy speel weer die wereld aan die brand.

Pieter9 ·

Hulle is die Bokke altyd een voor met taktiek; ‘n nuwe agterlyn beweging of bloot net baie vinnig te speel. En teen laasgenoemde het die Bokke tot nou toe geen antwoord nie… Dus voorsien ek twee verlore. Ek hou baie duim vas vir’ n wonderwerk.

De Villiers ·

Na saterdag se vertoning is ek nie meer so seker nie.

Ek dink ons reeks is verby.

My voorspelling is dat ons altwee gaan verloor in AUS en miskien een gaan wen teen die Pumas.

piet ·

Die Aussies het 17 beserings so dalk kan ons die pyp nog rook. Ek dink ons sou waarskynlik weer verloor het teen hulle as hulle op volle sterkte was.

H.A. ·

Die bokke het maar nie die ‘guts’ om nog ook Aus te wen nie. Hulle bom squad spelers is klaar lam.

Niklaas ·

Dis een sterk groep Bokke wat Aus en Arg se spanne gaan aanvat en ons hou duim vas dat al 4 wedstryde gewen word. Dit sal interessant wees om te sien of Canan Moodie speelkans kry en hoe hy vaar. Dan voel ek maar jammer vir Evan Roos. Hy speel beter as een of twee van die Bokke met die groot reputasies. Maar mens glo hy sal nog baie kanse kry in die toekoms.

JohanR ·

Hoekom het Elton Jantjies saam gedrentel? Nog nie weer gesien vandat hy na 3, of was dit 6 minute vervang is. Daar is nou beter manne in sy posisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.