Bokke kán die All Blacks klop … of praat ons gans te gou?

Die All Blacks se neerlaag in Saterdag se tweede toets in Wellington teen die Britse en Ierse Leeus moet die hoop in die Springbokkamp laat opvlam vir die komende Rugbykampioenskap.

Ja, dalk moet ʼn mens nie te veel lees in die Leeus se oorwinning van 24-21 nie.

En ja, een swaeltjie maak nie ʼn somer nie nadat die Bokke ʼn reeksoorwinning van 3-0 oor Frankryk behaal het. Die Hane was een van die swakste Franse toerspanne wat nog deur Suid-Afrika getoer het, en  ja, die All Blacks sal opstaan en terugveg in die derde toets in Auckland voordat daar uitsprake gemaak kan word.

Maar die saadjie is geplant dat die All Blacks geklop kan word. Dit het reeds verlede jaar in Chicago gebeur toe Ierland hul rekorddrome van 19 agtereenvolgende toetsoorwinnings met ʼn sege van 40-29 verpletter het nadat hulle vyf drieë gedruk het.

Saterdag se toets in Wellington het die Leeus ook soos ʼn handskoen gepas. Hulle was met die rug teen die muur en móés eenvoudig wen om die toer te red; die wedstryd is in gietende reën beslis – wat altyd ʼn gelykmaker behoort te wees; en die All Blacks moes vir 55 minute met net 14 spelers klaarkom nadat Sonny Bill Williams die trekpas gekry en Beauden Barrett drie maklike strafskoppe misgeskop het.

Gepraat van Williams, hy is slegs die derde All Black wat die trekpas in ʼn toets gekry het. Die eerste was Cyril Brownlie, wat in 1925 in ʼn toets teen Engeland afgestuur is; en die All Blacks het steeds met 17-11 gewen.

Colin Meads is in 1967 in ʼn toets teen Skotland afgestuur nadat hy woes na die bal geskop (die tweede keer in die wedstryd) en die Skotse losskakel se kop rakelings gemis het. Die All Blacks het die toets met  14-3 gewen.

Maar Saterdag in Wellington kon die All Blacks nie uithou nie en sal dit ʼn les vir alle spelers wees om arms te gebruik wanneer daar verdedig word.

Voor verlede maand se toetsreeks teen die Franse was ons mistroostig ná verlede jaar se misoes. Maar nadat die regte spelers en kaptein gekies is, die regte wedstrydplan gevolg is, daar weer met die regte houding en oorgawe verdedig word, en die spelers vir mekaar speel en ʼn plaasvervangersbank ingespan word wat baie groot impak maak, is daar hoop.

Slegs ʼn maand gelede sou straks net een of twee Bokke  in die gekombineerde Springbok-All-Blacks-span gewees het. Nou hoef Malcolm Marx, Eben Etzebeth, Franco Mostert, Warren Whiteley, Ross Cronje, Jan Serfontein en Jesse Kriel en ook ʼn hele paar ander Bokke nie terug te staan nie.

Niemand is onoorwinlik nie.

Die Amerikaanse legende Edwin Moses was in 122 opeenvolgende wedlope in die 400 meter-hekkies onoorwonne voordat hy in 1987 deur Danny Morris geklop is.

Die Pakistanse muurbalspeler Jahangir Khan het 555 muurbalwedstryde  opeenvolgend gewen; die Steaua-sokkerspan in Boekarest was onoorwonne in 106 wedstryde (insluitende ʼn eindstryd teen Barcelaona in 1986 se Europese liga) en Heather Mackay het vir 19 jaar lank nie ʼn rolstoel-tenniswedstryd verloor nie.

Maar alles kom tot ʼn einde.

Ook vir die All Blacks. Of praat ons gans te vroeg?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaybee ·

Diégene wat dink dat die Bokke die All Blacks in die nabye kan klop lewe in ‘n droom wêreld. Die All Blacks is steeds te goed vir die res van die wêreld. Hulle sal beslis terug wees in die volgende toets.

Veritas ·

Die kaptein en nuwe hulpafrigters maak ‘n wesenlike verskil. Brendan Venter weet wat dit is om vir die Bokke te speel en sy bydrae gaan ‘n reuse verskil maak. Om egter noual van ‘n sege oor die Kiwis te praat, is regtig ooroptimisme in sy ergste vorm. Die huidige Springbokgroep sal NZ nie wen in die volgende drie jaar nie.

Henk Stander ·

Waar die regering betrokke is, is net misoes. Om te dink dit gaan verander is onrealisties.

Dis tyd om SA rugby uit die regering se hande te neem en dit totaal kommersieël te maak. Privaat besitte spanne wat teen mekaar en teen die wêreld speel. Gaan vra bietjie vir die NZ rugby unie hoe moeg hulle vir SARU of SARFU (wie gee om watter een dit is, albei is ewe onbeholpe) is, terselfde tyd vra sommer die Ozzies ook. Die antwoord bly die selfde.

Maak ń nuwe onafhanklike rugby unie, wat nie geboor word deur rasse kwotas en die nonsens van politiekery nie.

Ons kan, kon en sal nog die NZers kan wen, maar net as ons soos hulle doelgerig fokus op die spel en om wen rugby te speel. As jy een voet in die politieke kamp het en die ander een in jou skelm bekomde BMW is dit bietjie moeilik om goeie besluite te maak oor SA rugby.

Nico ·

Nie nou nie die span moet eers n paar wedstryde saam speel en nog fikser word

Chris ·

Ek wil nie te naiëf of te optimisties klink nie maar ‘n oorwinning oor die All Blacks is altyd moontlik. Ek is nie ‘n rugby kenner nie. Het so bietjie gespeel toe ek jonger was. Wat vir my opvallend is, en het ek van Sean Fitzpatrick se dae al gesien. Die All Blacks hou in die eerste plek nie daarvan om op hul agtervoet te wees nie. Moet ook nie in hul “gesigte” speel nie. Hulle is ook meesters daarvan om die skeidsregter te speel. Hulle speel ook die man en nie die bal nie. Almal het ‘n ophef van McCaw gemaak. Hy was ‘n slim speler. Ek het al gesien by losskrums lê die All Blacks onkant, rol op hul tyd weg van die bal , en vertraag die bal. Hulle is ook geniepsig en karring aan die opponente. Die ou reel geld, as jy tweede slaan word jy gewoonlik betrap. Die skeidsregters tel dit nie sommer op nie, of kyk verby dit. So ons wag maar en sien.

Jaco Weber ·

Ja heeltemal te vroeg. Ons trap elke keer in dieselfde slagysyer: wen in die begin vd seisoen teen ‘n swak span – enige ordentlike provinsiale span sal die Franse span wat hier was kon klop – en dan dink ons ons kan teen die All Blacks speel. Natuurlik kan die All Blacks gewen word op dieselfde manier as nog altyd, want hulle nog altyd dieselfde rugby – hulle kan nie op die agtervoet speel nie. Dit sit nie in ons Bokspan om hulle op enige agtervoet te sit nie.

Corra ·

Dit is heeltemal te vroeg om te dink dat die bokke reg is om die AB te wen. Die Franse is pateties en het ons laat goed lyk, maar bygese doen dit baie vir ons selfvertroue, so tyd sal leer ons moet sien en wag tot ons hulle Arg en Aus speel voor ons kan se ons is terug..

Callie ·

Dream on. Eerste geluk was oupa mahoje se besering. Dit het du preez ingebring. Feite, du Preez, Kwagga Smit, Jaco Kriel almal baie beter. Wys net kwotas tel nog. Rhaymond Rhule sal nerens anders as by bokke en cheetsas span kry nie. Met sulke kwotas waarborg AB wen met 20+

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.