Bokke kies losvoorspelers, Leeus kies slotte

rugbybal-3.jpg

Argieffoto

Die Springbokrugbykeurders, en deesdae die hoofafrigter, het sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog nog altyd ʼn voorkeur vir losvoorspelers gehad wanneer hulle op ʼn kaptein besluit het.

Suid-Afrika het reeds sedert die eerste toetswedstryd in 1891 teen Brittanje 63 toetskapteins gehad en sedert 1921, toe rugby ná die Eerste Wêreldoorlog hervat is, 26 losvoorspelers as Springbokkaptein gekies.

Schalk Brits, die Bokke se 63ste toetskaptein, het die Bokke verlede jaar in Japan vanuit die agtsteman-posisie teen Namibië aangevoer, maar as jy die man op straat vra in watter posisie hy gespeel het, sal hy volstaan met haker.

Daar was sedert 1921 net twee heelagters, drie senters, twee losskakels, ses skrumskakels, vyf hakers (wat soms ook stut gespeel het), net een stut en ses slotte.

Theo Pienaar, ʼn stut wat in 1921 die Springbokke se toerkaptein in Nieu-Seeland was, is Springbokkaptein nr. 12, hoewel hy nie in ʼn toets gespeel het nie.

Warren Gatland, die afrigter van aanstaande jaar se Britse en Ierse Leeus-toerspan na Suid-Afrika, het in Sondag se Britse koerante daarop gesinspeel dat die Engelse slot Maro Itoje, voor in die ry staan om volgende jaar die span in Suid-Afrika aan te voer.

Die Leeus-keurders het ʼn sagte plekkie vir slotte, want sedert die toerspan van 1955 (hulle het eers in 1950 op die toer na Australië as die Britse Leeus bekend begin staan) is die span op ses toere na Suid-Afrika vier keer deur slotte aangevoer.

Die slot Robin Thomson het die toerspan in 1955 aangevoer en nog drie ander slotte, Willie John McBride (1974), Martin Johnson (1997) en Paul O’Connell (2009) was ook die Leeus se kaptein in Suid-Afrika.

Met die slotte agter die stuur, het die Leeus agt van die 14 toetse in Suid-Afrika gewen, ʼn wenpersentasie van 57,2%.

In 1962 het die Leeus die Skotse vleuel Arthur Smith as kaptein aangewys en in 1968 was die Ierse heelagter Tom Kiernan die kaptein. Toe kon die Leeus nie een van die agt toetse wen nie en het hulle twee keer gelykop gespeel.

Dus maak dit sin dat ʼn slot weer die Leeus se kaptein sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

As ek my nie misgis nie was Billy Beaumont ook kaptein van die 1981 Leeusspan.

Niklaas ·

Ek het daar by 1980 rond vir Bill Beaumont as slot en kaptein vir die Britse Leeus sien speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.