Bokke, Kiwi’s is groot in Japan

Beauden Barrett, Pieter-Steph du Toit en Aaron Smith. (Foto: X/Toyota Verblitz)

Vergeet vir eers van die Alphaville-liedjie; dit is veel eerder Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse rugbyspelers wat groot treffers in Japan is.

Sewe Springbokke en sewe van die All Black-spelers wat in die Wêreldbeker-eindstryd in aksie was, speel deesdae hul rugby in Japan se League One-toernooi. Boonop is ʼn paar van die “rugbyaartsvyande” nou ook spanmaats.

Sam Cane en Cheslin Kolbe speel al twee vir die Suntory Sungoliath-span, terwyl Pieter-Steph du Toit saam met Aaron Smith en Beauden Barrett vir Toyota Verblitz uitdraf.

Die toernooi begin amptelik op 9 Desember en die eindstryd word op 6 Mei beslis.

“Dit is ʼn baie opwindende kompetisie. Jy speel nie net teen die voorste spelers in die land nie, maar daar is ook baie oorsese spelers waarteen jy jouself kan meet,” het Cane gesê.

Op sy beurt meen Jesse Kriel dat sy tyd in Japan sy spel ʼn definitiewe hupstoot gegee het.

Benewens sy paar wedstryde vir die Red Hurricanes in 2015, is hy sedert 2020 vir die Canon Eagles in aksie.

“Ek is mal oor Japan en dit is baie lekker om iemand soos Faf [de Klerk] in dieselfde trui te sien. In ʼn vreemde land en kultuur is daar baie minder dinge wat jou aandag óp en ván die veld aftrek en jy kan meer op jou spel konsentreer.”

Volgens Kriel geniet die Japanners dit ook om die bal binne spel te hou; die kantlyn is nie sommer iets wat opgesoek word nie.

“Jou aangeewerk en verdediging moet dus skerp bly, terwyl die hoë werksetiek ook ʼn positiewe invloed op ʼn speler het.”

Springbokke in Japan: Franco Mostert (Heat), Pieter-Steph du Toit (Verblitz), Kwagga Smith (Blue Revs), Damian de Allende (Wild Knights), Faf de Klerk (Eagles), Jesse Kriel (Eagles) en Cheslin Kolbe (Sungoliath).

All Blacks in Japan: Sam Cane (Sungoliath), Ardie Savea (Kobe Steelers), Shannon Frizell (Brave Lupus), Brodie Retallick (Steelers), Aaron Smith (Verblitz), Richie Mo’unga (Brave Lupus) en Beauden Barrett (Verblitz).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.