Bokke klop Poemas, maar daar bly kommer

Javier Ortego Desio en Matίas Moroni is vasbeslote dat Malcolm Marx nie verder sal vorder nie, en Willie le Roux is byderhand om te help. (Foto: GB Jordaan)

Dit was een van daardie vertonings waaroor ʼn mens nie te lank opgewonde sal wees en te lank oor gaan gesels nie.

Ja, die Springbokke het die Argentynse Poemas Saterdag op Kingspark in Durban met 34-21 in die Rugbykampioenskap geklop, maar daar is nog te veel skaafplekke.

Ja, die Bokke het ses drieë teenoor drie gedruk en ja, daar was ʼn hele paar opflikkerings, maar is dit genoeg om die All Blacks en Wallabies te troef, of selfs om aanstaande week in Mendoza die sege te herhaal?

Kom ons kyk na die statistieke wat gekrap het.

Die Bokke het 17 duikslae gemis, hulle het ʼn paar lynstane afgestaan, hulle het ʼn paar hanteerfoute begaan, en die samespel was ook nie na wense nie.

Die proefneming met die jong Damian Willemse op losskakel laat in die tweede helfte met Handré Pollard op binnesenter sal die afrigter, Rassie Erasmus, ook laat wakker lê. Só ook Pollard se skopwerk pale toe.

Maar dan die pluspunte.

Ai, dit was lekker om die linkervleuel Aphiwe Dyantyi te sien kook. Hy is ʼn bondel energie, gaan nie met die bal dood nie, en rond baie goed af. Só ook Makazole Mapimpi, al het hy twee drieë gedruk wat hulle in rugbyterme sê my ouma kon ook gedruk het.

Handré Pollard sê Matίas Moroni die stryd aan. (Foto: GB Jordaan)

Dan het Willie le Roux ook voortgebou op sy goeie vertonings, en Faf de Klerk het nie sy gelyke as skrumskakel nie.

Eben Etzebeth is steeds die yster voorlangs, Pieter-Steph du Toit was oral en die losvoorspelerkombinasie het ook redelik gekliek.

Die Bokke het goed geskrum en die bank het goeie impak gemaak.

Die pad vorentoe?

Eintlik kla ʼn mens met die witbrood onder die arm, hoewel alles nog nie klopdisselboom is nie.

Puntemakers –

Suid-Afrika 34 (10) – Drieë: Luykhanyo Am, Aphiwe Dyantyi (2), Makazole Mapimpi (2), Faf de Klerk. Doelskoppe: Handré Pollard (3).

Argentinië 21(14) – Drieë: Nicholas Sanchez, Matίas Moroni, Pablo Matera. Doeskskoppe: Pablo Sanchez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

As hulle so teen die All Blacks gespeel het was daar ‘n tranedal. Teen hulle wen jy met harde werk, talent en vaardigheid……….nie skop, skop, skop, skop en hoop die bal hop reg vir jou nie. Die beste verbetering op die veld is die weglaat van Kriel en De Alende…….nou moet Rassie van nog net een speler ontslae raak wat nie daar hoort nie……..Warren Whiteley.

What a joke! ·

Het jy die All Blacks gesien speel???? Daar kom GROOOOOOT marakas vir die bontebokke met hul kwota spannetjie….neem ag Henry en Wesley jul kwota spannetjie gaan getrap word en hard ook as jul dink die Poemas was kompeterend haha…

PJC ·

Gelukkig het Rassie darem besef sy plaasvervanger skrumskakel gaan die span sink as hy hom in daardie posisie opbring toe speel hy hom sommer vleuel. Akker v d Merwe kon ook ń baie groot verskil gemaak het as hy op die bank was waar hy moes wees. Marco van Staden kon meer speeltyd gekry het en iets sal gedoen moet word met Pollard se swak skopwerk.

lolla ·

Uiters swak vertoning oor die algemeen. Lyk my ons keer nou terug na die up and under gemors van die verlede, die hoeveelheid balbesit wat net so weggeskop is, is kommerwekkend. Dyantyi en Etsebeth die enigste ligpunte in ‘n baie onbeholpe vertoning andersins.

Ria ·

Ek stem saam…Faffa de Klerk is die beste skrumskakel…As hy op die veld is dan gee hy sy ALLES…RIA.

OUTOPPIE ·

Kry vir Rassie jammer as dit al is wat hy kan uitrig met ‘n Springbokspan.

Afrikaan ·

Die vraag bly: kan Erasmus afrig en/of span kies of is ons spelers eenvoudig net nie wereldklas nie?

Kerneels ·

Julle klomp bitterbekke onbloot jul onkunde op makro-skaal. As iemand nog praat van ‘kwota spelers’ op nasionale vlak, soveel te meer. Dayntyi, Mapimpi én Am was briljant. Kom ons wees dankbaar vir die positiewe wat uitgekom het en ondersteun die bokke om daarop voort te bou.

Frans C ·

Erasmus vaar in die selfde bootjie as afrigters voor hom,Hy moet twee groepe tevrede hou,nl SARU en die se politieke base en die rugbypubliek.En dit is eenmaal so dat as jy op twee stoele probeer sit val jy gewoonlik tussen die twee,soos Saterdag se wedstryd,dit was nie goed nie maar ook nie te vrot nie.
De Klerk het weereens bewys watter leemte hy in Leeusrugby gelaat het.Mostert se afwesigheid is gevoel.Is hy weggelaat om vir Marvin Orie plek te maak.

Een ding is seker die Springbokke het geen idee hoe om te verdedig teen ‘n span wat teen hul hardloop nie.PLeks om gelyk op te gaan en spelers soos Sanchez en ander se speelruimte in te perk,wag hul vir hom.Een ding is seker enige speler op voel spoed gaan ‘n speler wat stilstaan en vir hom wag 9 uit tien keer klop,soos Sanchez se verspot maklike drie gewys het.
Die Bokke weet eenvoudig mi nie hoe om hul direkte opponent vas te vat nie.

Niklaas ·

Ek is bly oor die wen maar sien swarigheid teen daai magtige All blacks en hul spelpatroon. Ons vleuels sal heel moontlik dan nie naby ‘n doellyn kom nie. Laat ons nou nie leef in gekke paradys nie. Moeilike tye wag baie waarskynlik.

Bantam ·

Julle klomp het duidelik n ander wedstryd as die partydige Toks gekyk . Volgends hom is dit die beste span in wereld

Afrikaanse Knaap ·

Ek kyk glad nie meer rugby na Fikile Mbalula en sy rasse kwotas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.