Bokke kon netsowel eerbewys ontvang het

laureusDie grote wat weggekom het.

Toe die All Blacks-rugbyspan Maandagaand in Berlyn die Laureus-eerbewys as span die jaar ontvang het, het dit `n mens laat terugdink hoe naby die Springokke aan `n oorwinning in 2015 se Wêreldbekertoernooi gekom het.

Net `n drie, `n skepdoel of `n strafdoel en die Bokke kon die All Blacks geklop het, wat die halfeindstryd met 20-18 gewen het. Die Nieu-Seelanders het voortgegaan deur Australië met  34-17 in die eindstryd te klop en is nou die span van die jaar.

Statistiek (en tellings) is soms misleidend en word gereeld deur afrigters, ontleders, en die media, gebruik om leemtes te verbloem en verskonings te soek. Kom ons wees eerlik, die Bokke was in die laaste 12 minute byna nooit buite hul halfgebied nie. Al is ons bloed ook al hoe grasgroen, het die Bokke verdien om te wen? Veral ná die skoknederlaag teen Japan (32-34) en die naelskraapse oorwinning  van 23-19 oor Wallis in die kwarteindronde.

Die All Blacks is ook nooit werklik voor die halfeindronde getoets nie, hulle het die meeste drieë in die toernooi gedruk en verdien dus die eerbewys, net soos die Bokke in 2008 toe hulle ook as die span van die jaar aangewys is nadat hulle die 2007-toernooi gewen het.

Die All Blacks het ander spanne soos die Amerikaanse basketbalspan die Golden State Warriors (NBA-kampioene), en die Spaanse sokkerreus FC Barcelona uitgestof.

Die Laureus-keurpaneel bestaan uit 55 lede, wat drie Suid-Afrikaners, Gary Player (gholf), Morné du Plessis (rugby) en Mike Horn (avonturier) insluit. Daar is verskeie krieketlegendes soos Viv Richards, Ian Botham, Steve Waugh, Sachin Tendulkar en Kapil Dev, tennishelde soos Boris Becker en Martina Navratilova, oud-atlete soos Michael Johnson, Daley Thompson, Sergey Bubka en Seb Coe, gimnaste, gholfspelers, F1-jaers en selfs `n Amerikaanse voetbalspeler met `n stem.

Daar dien net drie oud-rugbyspelers, Du Plessis, Sean Fitzpatrick en Hugo Porta in die paneel. Dit wys nou watter hoë dunk en agting die res van die wêreld se sportlui vir rugby en die Wêreldbekertoernooi het, veral nadat Schalk Burger (2015) en Dan Carter (2016) ook met eerbewyse vereer is vir hul terugkeer na sport ná ernstige beserings.

Ai, as die Bokke verlede jaar net meer drieë kon druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman ·

Maar wees maar eerlik, die All Blacks is die beste span. Hulle het dit verdien.

Chris H ·

Die Bokke het nooit n kans gestaan om die prys te wen nie.
Bokke het twee keer All Blacks verloor, Verloor teen Australie
Verloor teen Argentina
Verloor teen Wallis
Verloor teen Japan
Dit alles in een jaar, so sê my hoekom die skrywer dink dat die Bokke so naby was om met die prys weg te stap??

All Blacks verdien die erkenning. Hulle was en is die beste span

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.